Menu

Die Berghaan

Balanseerkunstenaar van die Afrika-lugruim

André Botha, Roofvoël-program, Trust vir Bedreigde Natuurlewe
Roofvoëls is nie in die algemeen bekend vir hulle kleurrykheid en treffende voorkoms nie, maar daar is een uitsondering op hierdie reël, naamlik die berghaan Terathopius ecaudatus of bateleur, soos wat ook dit by baie mense bekend staan. Die naam bateleur verwys na hierdie arende se kenmerkende vlugpatroon oor die savannas van Afrika – dit lyk asof die voël dikwels kantel na links of regs net om weer in die teenoorgestelde rigting oor te hel om sodoende sy balans in die lug te herwin. Presies net soos iemand wat probeer om op ʼn tou te loop en dikwels ʼn lang stok gebruik om te help om sy balans te hou. Die Franse natuurkundige, Francois le Vaillant, was die eerste om hierdie spesie aan die wetenskap te beskryf en dit was juis hierdie gedrag wat hom genoop het om dit Le Bateleur (Die Touloper) te doop. Daarom staan die berghaan dus dikwels ook bekend as die balanseerkunstenaar van die lug.

Die rede waarom hierdie spesie so ʼn kenmerkende vlug het, kan toegeskryf word aan die feit dat hulle besonder kort stertvere het en dus minder stabiel in die lug is, vandaar die nodigheid om dikwels heen en weer te kantel om balans te hou. Waar die naam berghaan presies vandaan kom, is nie heeltemal seker nie en die gebiede waar die spesie vandag in Suid-Afrika voorkom, is beslis nie bekend vir hulle bergagtigheid nie. Die “haan”-gedeelte van die naam dui waarskynlik op die kenmerkende roep van hierdie voëls, wat mens dalk aan die kraai van ʼn hoenderhaan herinner.

Na my mening is daar nie een ander spesie in suidelike Afrika wat met die berghaan kan kompeteer om die titel as die mees aantreklike roofvoël in die streek nie. Die kenmerkende helderoranje-rooi gesigvel, bene en kloue in volwasse voëls is waarskynlik die uitstaande kenmerk van hierdie spesie. Die kop en lyf is bedek met swart vere en die kort stert is rooibruin van kleur. Die bokant van die vlerke is ʼn ligte grys kleur en die meeste individue in Suid-Afrika het rooibruin vere op die rug. Daar is egter individue wat roomkleurige vere op die rug het, maar hierdie vorm kom meer algemeen voor verder noord in Afrika. Die oë is donkerbruin van kleur. Die kaal bene, wat bedek is met growwe skubbe, is ook kenmerkend en ʼn goeie aanduiding dat hierdie spesie tot die slangarendgroep behoort. Die betreklik groot kop in verhouding met die lyf is verdere aanduiding hiervan.

Dit is ook een van die min roofvoëlspesies in suidelike Afrika waar dit betreklik maklik is om tussen geslagte te onderskei, hetsy die voël in vlug is of nie. Die onder-vlerkpatroon van manlike voëls bestaan uit twee breë wit en swart bande aan albei kante terwyl die wyfie se vlerke hoofsaaklik wit van onder vertoon met ʼn dun swart randjie aan die onderkant. Wanneer die voëls sit en die vlerke gevou is, kan die ligte grys met die donker rand van die wyfie ook waargeneem word terwyl die vlugvere van die mannetjie se vlerk van bo af uniform swart vertoon.

Jong voëls lyk aansienlik anders as volwassenes en word dikwels deur waarnemers verwar met ander bruin roofvoëls wat ʼn uitdaging bied om te identifiseer. Onvolwasse voëls vertoon hoofsaaklik dofbruin en neem sowat 4-5 jaar om tot die volwasse verekleed te verveer. Die kaal gesig en pote vertoon dof groen in die eerste 18 maande en verander mettertyd na ʼn dowwe oranje-geel kleur voordat dit na die oranje-rooi van die volwassene. Dit is ook interessant om te merk dat jonger voëls se stertvere heelwat langer is as dié van volwassenes, waarskynlik om hulle te help om beter in die lug te kan maneuvreer terwyl hulle nog onervare in die kuns van vlieg is.

Die berghaan is by uitstek bedags aktief en waarskynlik een van die roofvoëlspesies wat die opmerklikste is in die gebiede waar hulle voorkom. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat hulle betreklik laag oor die landskap vlieg op soek na kos en ook dikwels met paaie langs vlieg op soek na kos waar diere wat doodgery is. Laasgenoemde is dan ook ʼn aanduiding van die geneigdheid van hierdie spesie om te aas, en dit na raming bestaan tot 70% van hul dieet uit aas. Die grootte van diere waarop geaas word, wissel van klein knaagdiere tot olifantkarkasse en feitlik enige spesie tussenin. Hierdie spesie is dikwels ook die eerste wat ʼn karkas in  die veld sal opspoor en daar word in sommige kulture geglo dat aasvoëls nie aan ʼn karkas sal vreet voordat die berghaan nie daar was en die oog uit die karkas verwyder het nie. Aasvoëls en ander aasdiere volg ook dikwels die vlug van hierdie voëls omdat hulle dikwels ʼn goeie aanduiding van die teenwoordigheid van karkasse in die veld is.

Die dieet van hierdie spesie is egter nie net beperk tot aas nie, maar hulle is ook behendige jagters, wat ʼn verskeidenheid kleiner soogdiere tot die grootte van ʼn springhaas, voëls en natuurlik ook reptiele soos slange en akkedisse vang en vreet. Prooi word gewoonlik verras deur vanuit die lug op hom neer te duik en hom op die grond dood te maak. Kleiner prooi word dikwels heel ingesluk terwyl groter prooi en karkasse in kleiner stukkies geskeur word voordat dit geëet word. Berghane is soms die teiken van ander roofvoëls wat probeer om gevangde prooi by hulle af te neem, en die roofarend is veral hiervoor bekend. Hulle is veral kwesbaar wanneer hulle met prooi na die nes terugkeer om ʼn kuiken te voer, en dit kan in sommige gevalle ʼn impak op die broei-sukses van ʼn paar hê.

Dit blyk dat berghane hoofsaaklik monogaam is – pare bly regdeur die jaar bymekaar en beskerm hulle territorium aggressief teen ander volwassenes van dieselfde spesie. Ander roofvoëls, tot so groot as breëkoparende, loop ook dikwels deur gedurende die broeiseisoen wanneer die gebied om die nes besonder aggressief beskerm word. In Suid-Afrika broei die berghaan gewoonlik in die laat somer, van ongeveer middel-Desember af. Die nes word van stokke en fyner takkies binne-in die kroon van ʼn boom op ʼn stewige tak of in ʼn mik gebou, waarna dit met sagter materiaal soos groen blare uitgevoer word. Die mannetjie is hoofsaaklik verantwoordelik vir die bou van die nes en dit kan tot ses weke neem om die nes te voltooi. Aangesien hulle broei wanneer die meeste groot bome blare dra, is die neste dikwels redelik moeilik om op te spoor. Gelukkig is al die moeite nie verniet nie en word die nes dikwels vir ʼn paar jaar gebruik voordat dit vervang word deur ʼn nuwe nes elders in die paar se gebied.

Hierdie spesie lê gewoonlik net een eier en dit broei ná sowat 55 dae uit. Die paar neem albei deel aan die uitbroei van die eiers en die versorging van die kuiken, wat ná ongeveer nege weke die nes verlaat. Jong voëls bly egter vir die eerste drie maande in die omgewing van die nes en word steeds deur die ouers gevoer voordat dit stelselmatig meer selfstandig word. Sekere gebiede in die Kalahari en Kruger Nasionale Park is veral daarvoor bekend dat jong voëls wat hulle nesgebied verlaat, in relatief hoë digthede bymekaar kom en dan mettertyd begin om hul eie hougebied te bepaal totdat hulle ʼn maat vind en ʼn eie territorium kan vestig.

Voor die 20ste eeu was hierdie spesie redelik wyd verspreid en algemeen in Suid-Afrika. Hul verspreiding het egter oor die afgelope 150 jaar aansienlik gekrimp en hul getalle het sodanig afgeneem dat hulle tans hoofsaaklik tot groot bewaringsgebiede soos die Krugerwildtuin en omliggende Laeveld, Zoeloeland asook die Kgalagadi Oorgrenspark beperk is. Daar is egter ʼn paar broeipare op privaat grond in die Noord-Kaap en Zoeloeland, en die spesie blyk goed te doen op plase waar hulle beskerm word en neste nie versteur word nie. Weens hul beperkte getalle en nou beperkte verspreiding word die spesie tans gelys as kwesbaar  in die Suid-Afrikaanse Rooidataboek. Berghane hou gewoonlik in die bosveld-, Miombo- en savanna-streke van Afrika en kom nie dikwels in bergagtige gebiede of woude voor nie. Hulle is redelik wyd versprei in geskikte habitat regdeur sub-Sahara Afrika.   

Faktore wat vir die spesie ʼn bedreiging inhou, sluit in vergiftiging, direkte vervolging en verlies aan geskikte habitat. Aangesien hierdie spesie geneig is om te aas, is hulle net so kwesbaar soos aasvoëls indien die karkas waaraan hulle vreet, vergiftig is. Personeel in die Krugerwildtuin het ook onlangs gevalle gerapporteer waar hierdie spesie spesifiek geteiken is deur die plasing van kleiner, vergiftigde lokaas, waarskynlik om hulle te dood vir die gebruik van hulle liggaamsdele in die moetie-handel. Ongelukkig is minstens vier volwassenes en een jong berghaan só vergiftig. Daar is egter baie min bekend oor die bygelowe wat gekoppel word aan die gebruik van die berghaan as tradisionele medisyne, maar dit blyk dat veral die vere baie gesog is. Omdat hierdie spesie betreklik laag vlieg, is hulle ook kwesbaar om met ʼn vuurwapen of selfs pyl en boog uit die lug geskiet te word, hetsy om te oes of wanneer hulle as ʼn moontlike bedreiging vir pluimvee of ander lewendehawe beskou word.
Die bewaring van hierdie spesie is, soos van die meeste ander roofvoëls en aasvoëls, van uiterste belang aangesien hulle belangrike aanduiders is van ʼn gesonde omgewing en ook ʼn belangrike rol speel in die beheer van sekere knaagdierbevolkings. Die lugruim van Afrika sal net nie dieselfde wees sonder die harlekyn van die lug nie.

Indien jy bewus is van probleme, bedreigings of broeiaktiwiteite van hierdie spesie, sal dit goed wees om dit te rapporteer aan die Roofvoël-program van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe by  +27 82 962 5725 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .

More in this category: « Anthrax Witmelkhout »
back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.