Menu

Witmelkhout

’n Wetlik beskermde boomsoort

Pieter van der Walt

Plante met ’n melksapperigheid van wisselende aard is ’n bioskat van piepklein tot fors, groot fisiologiese fantasieë wat jou in verwondering laat met hul anderse, mooie groeivorme. Hulle wissel van stylvolle, knoesterige, blaarlose noorsbome, nabome of gifbome en klein, skame vetplantjies van die euphorbia- of melkbosfamilie, tot 40 m hoё mingerhout-galerybosse Breonadia salicina langs ons oostelike rivierbelynings, donker Lebombo-ysterhoutstande Androstachys johnsonii langs ’n bergseelyn van weleer en die prag seesproei-gekerfde witmelkhout-kroongewelfskuinstes Sideroxylon inerme langs ons huidige oostelike en suidelike seefronte. Almal is uitskieters in ’n boomadel wat sensitiewe groeifronte in plek hou onder skoot van ysere seesproei, waaisand of waterkrag. Hulle is boonop oor lang tye bedreig deur wanbenutting van ’n mensemag met weinig sin vir natuurprag of ekologiese balans.

Dit is insiggewend dat die blaarlose, sponsagtige naboomagtiges met hul verleidelike gifmelk nie as melkhoute in die volksmond gesien word nie. Die “na” in hulle naam (naboom) is ’n vervorming van die trekvolkies se G’Nap – vername bron van hul gifstof om diere met pyle te dood. By ’n plant of insek sein uitwendige rooi gewoonlik gevaar vir die mens. Hierdie wit gif pak jy egter ook nie sonder werklike handskoene aan nie.

Ons oostelike subtropiese bosse huisves voorts ’n aantal melkhoutbome en struike met ’n melksap sonder byt wat tot verskeie families behoort. Die groot Sapotaceae se 600 lede (40 geslagte) is die bekendste omdat hulle sierade is wat hul bestaan ekonomies en esteties vir die mens regverdig. Van Suid-Afrika se 14 boommelkhoute is 3 veral bekend, naamlik die witmelkhout, moepel Mimusops zeyheri en stamvrug Englerophytum magalismontanum. Hul enkelvoudige, leeragtige blare met gawe eerder as getande of geskulpte rande, kom gewoonlik dig gepak aan takeindes voor. Digte skadu saam met ’n baie smaaklike, opvallende en geil vrugdrag kenmerk dus melkhoute in die algemeen.

Bekende melkhoute is ook deel van die uiteenlopende Apocynaceae- of oleanderfamilie, soos die kinaboom Rauvolfia caffra, impalalelie Adenium multiflorum en skaarse halfmens Pachypodium namaquanum. Giftiges soos die geronde boesmangifboom Acokanthera oppositifolia skuil ook in dié mooie verwantskap.

Ander volop melkhoute is mingerhout (Rubiaceae), die aardige Afrika-geelmelkhout Garcinia livingstonei (Clusiaceae) en die Lebombo-ysterhout (Picrodendaceae). Hul meesal geurige olie- of melkerige stamsap gee aanleiding tot hout van ’n swaar, baie sterk, duursame gehalte wat hul gesogtheid vir die mens grootliks verklaar. Hierdie veroudering tot msimbitsi of ysterhout maak dat hul pale uiters gewild is om dakkappe vir bitter lank omhoog te hou. Ry maar langs Mosambiek se hoofpaaie met die vele informele houtstalletjies uit msimbitsi-pale gebou, dan wonder jy hoeveel bergysterhoutstande nog oor is. Outyd se geliefde glansryk gepoleerde meubels van die witsaphoute wat die maker en sy saag en skaaf laat sweet en verstomp het, deurgeur nog menige huis vandag met ’n soetruikende houtstof.

Kustreffer
Die witmelkhout (RSA-boomnr 579), of net melkhout soos dit algemeen bekend staan, is ’n volop, kwasterige, blaarryke, immergroen voorslagbosbouer wat veral langs suidelike Afrika se oostelike subtropiese tot tropiese kuslyn voorkom. Verwronge boskasies wat deur melkhout gedomineer word, bied effektiewe beskerming aan sensitiewe aanloopduine teen stormwinde vanaf die see. Te veel bosstande het egter weens onnadenkende bouwerk op voorduine reeds verdwyn met ’n onstabiele duinlandskap tot gevolg. Mag ’n beskermde status in hierdie geval iets beteken.

Die inherent koepelvormige witmelkhout word as skaars enkelinge van sowat 7 m hoog in ons oostelike bosveld in bykans al wat habitat is, gevind. Hul blokkiesbasstamme vaar goed skuins of neerliggend met ’n meerstammigheid wat pragtige spreiende melkhoute tot gevolg het. In die Nasionale Krugerwildtuin toon melkhout geen voorkeur vir enige grondsoort nie en word veral in die natter suide aangetref. Hierdie bome toon tog ’n voorliefde vir termiethope en turflaagtes langs riviere.

Hul opvallende blink, enkelvoudige, dik, leeragtige en ellipsvormige blare is ideaal aangepas om in uiteenlopende groeiplekke hul funksies te vervul. Seesproei vervorm die kroongewelf tot ’n blaarryke skuinste wat ’n struikwoud vervolmaak. Agter die eerste duin of twee is dikwels ’n sprokiesagtige, oue katedraalwoud te vinde met ’n bykans aaneenlopende en taamlike hoё kroon – ’n gewilde, esteties mooie kusskuiling met takkrulle wat ’n blaardak in stand hou waaronder menige karavaanpark of restaurant ontwikkel is.

Kampeerders moet egter bedag wees op die lastigheid van ’n bessie-oes byna dwarsdeur die jaar. As ’n gewilde en versekerde kosbron vir geveerde saadvreters bly pers blertse op dure besittings of kopskote jou voorland indien ’n bykomstige bedekking dit nie verhoed nie.

As jy van so ’n stoffasie gemaak is dat jy kan floreer waar ander sukkel, maak dit ’n lange voortbestaan net ’n plesier. Dit is om hierdie rede dat die melkhout se weerstandbiedende aard reeds bekendheid verwerf het onder die vroeё skeepvaarder-pioniers wat maar immer op soek na dié soort houtgoud was – Sideros = yster en xylon = hout; dus amper die moeder van ons vele ysterhoutsoorte. Sy planke wat bykans nie krimp nie, is as ideaal vir skeepsbou beskou. Vele ou melkhoutstrydrosse moes hiervoor oor lang tye in die stof byt. Hierdie ongewapende (= inerme – doringloos), stadig groeiende pronkstukke hou groeifronte in plek.

Soos die bekende hardekool Combretum imberbe en mopanie Colophospermum mopane langs Namibiё se Skedelkuspark rivieroewers as boom, struik of rankplant in stand hou, oorleef witmelkhoutstande insgelyks op ooskus-duinvelde. Versmoring deur waaisand word deur allerlei vorme van vegetatiewe verbreiding oorkom. Melkhout verdra tot selfs erge brak gronde in wanbestuurde riviermondings.

Ongeag die geskiktheid van die melkhout se ysterlyf teen ongenadige aanslae, bly sy immer blinkende breёblaartrots ’n wonder. Jy verwag eintlik hier dun, lynvormige blaargroei. Hulle bondel eintlik spiraalvormig aan takeindes om hul blootstelling te verhoog. Wat help is hul korte blaarsteeltjies wat ferm in takkies ingebed is. Ou blaarhegtings bly lank nog aan stamme sigbaar.

As voerboom vir die kus se blaarvreters vervul die melkhout slegs ’n aanvullende rol. Die taai, ietwat bitter melksapuitskeiding het sekerlik daarmee te make. Die volop, vlesige, albastergrootte pers-swart bessies is egter groot kos vir mens en dier, al verbitter die melksap sy gradering vir sommige tot onsmaaklik. Dit is tradisionele oorlewingskos soos min vir strandlopers en skipbreukelinge in ’n andersins relatief voedingsarme omgewing.

Lewende volksmonumente
Die grootheid en oudheid van vele soorte boomtreffers stook veral ’n natuurtrots op baie plekke as simbole van lewenskrag ná ’n lange bosdiens. Die veteraanboomikone se diens aan die mens, hetsy as indababoom, pos of bushalte en vele ander kostelike aanwendings, veral by die kremetart, verhef dikwels hul status tot nasionale monumente. ’n Paar witmelkhoute naby ons seefront is ook tot spesiale bittereinders van ’n eens veel groter populasie verklaar.

Ons bekendste melkhout is Mosselbaai se beroemde “Poskantoorboom” wat sedert die 1500’s as ’n posboom vir seemanne gedien het. Die verdrinking van die bekende Portugese ontdekker, Bartholomeu Dias, is daar deur kommandeur João da Nova in ’n brief onder andere vermeld. Die brief is in ’n skoen gelaat wat aan die boom gehang is. Indien dit steeds dieselfde boom is, is die melkhout sowat vyf eeue oud.

Ander bekende melkhoute is die “Verdragboom” in Woodstock, Kaapstad. Ná die Blaauwberg-veldslag in 1806 het die kommandeur daar formeel die Kaap aan Groot-Brittanje oorhandig. Nog ’n vredesboom is die “Fingo-melkhout” naby Peddie in die Oos-Kaap. In 1835 het die Fingo-volk daar hul trou aan die Britse koning gesweer omdat hulle deur Engelse soldate na veiligheid gelei is toe opperhoof Hintza en sy krygers hulle agtervolg het.

Hierdie artikel is verkort – lees die volledige weergawe in die Januarie-uitgawe van WILD & JAG.

Volgende keer: Sprokiesboom
Dr Pieter van der Walt, tel (012) 329 0037, e-pos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.