Menu

Die Springbok

Die waterbok


Antidorcas marsupialis

J du P Bothma

Die springbok Antidorcas marsupialis is die enigste gasel in Suid-Afrika. Zimmermann het hierdie spesie vir die eerste keer in 1780 wetenskaplik beskryf as Antilope marsupialis op grond van ’n beskrywing deur Allamand van ’n skildery wat Schouman van ’n springbok in die Suid-Kaap geskilder het. Die springbok word dikwels in die rotskuns van die San verbeeld, soos onder andere in Madoor se grot by die Wit Keirivier in die Oos-Kaap. Die naam Antidorcas is in 1847 deur Sundevall geskep omdat antilope net in Indië voorkom. Antidorcas beteken die keersy (anti-Dorcas) van Dorcas se gasel Gazella dorcas van Benede-Egipte wes van die Nylrivier, terwyl marsupialis verwys na die marsupium (buidel) op die rug waarin die wit pronk wegvou. Daar is drie erkende subspesies wat net in suidelike Afrika voorkom, met Antidorcas marsupialis marsupialis in die meeste dele van Suid-Afrika en Antidorcas marsupialis hofmeyri in die noordelike dele van die Noord-Kaap.

Fossielvorme van Antidorcas het 2,5 tot 500 000 jaar gelede in die noorde, ooste en suide van Afrika gelewe en het waarskynlik in Oos-Afrika uit ’n gasel ontstaan. Daar is minstens drie uitgestorwe soorte van Antidorcas bekend en die springbok se voorouer was waarskynlik Antidorcas recki. Die springbok en die drie uitgestorwe spesies van Antidorcas het een miljoen jaar gelede almal by Swartkrans in Gauteng gelewe en springbokfossiele is ook in ’n grot by Heroldsbaai in die Wes-Kaap gevind.

Beskrywing

Die springbok is ’n vinnige en elegante gasel met lang bene. Die rug is donkerbruin en daar is ’n breë rooibruin band wat die boonste dele van die wit onderkant skei. Die kruis en stert is wit en daar is ’n diep sak op die rug waarin die wit pronk wegvou en deur bruin hare bedek word. Daar is ’n kenmerkende rooibruin streep vanaf die oog tot by die neusgate en die gesig is wit. Daar is ook ’n dorsale rif van lang wit hare. Die ore is lank, nou en gepunt, en die nek is lank. Daar is drie natuurlike kleurvariasies: gewone, wit en swart springbokke.

Die gewig en grootte van ’n volwasse springbok wissel tussen streke vanaf ’n gewig van 31,2 kg vir ’n volwasse ram en 26,5 kg vir ’n ooi in die noordelike provinsies van Suid-Afrika tot 41,6 kg en 35,4 kg in die Kalahari waar ’n ram van 46 kg al versamel is. Die skouerhoogte wissel vanaf 75 cm vir ’n ram en 72 cm vir ’n ooi tot 86 cm en 81 cm respektiewelik, met die grootste springbokke ook in die Kalahari met voeding ’n bepalende faktor. Albei geslagte dra horings wat eers agteroor buig voordat die punte na binne draai en vir die bepaling van ouderdom gebruik kan word. Die horings van die ram is dikker as dié van die ooi en net die onderste gedeelte van die horings het riwwe. Daar is ’n paar preorbitale kliere maar geen bewys dat hulle ’n rol speel om ’n gebied te merk nie.

Verspreiding

Die springbok kom in die suidwestelike dele van Angola, Botswana, Namibië en Suid- Afrika voor. In Suid-Afrika kom hy in die noordwestelike dele van Gauteng en KwaZulu-Natal, die Vrystaat, die grootste deel van die Noord-Kaap en in dele van die Oos-Kaap en Wes-Kaap voor, maar het in onlangse tye waarskynlik nie suid van Vanrhynsdorp voorgekom nie.

Habitat

Die springbok verkies oop, dor gebiede en grasvlaktes maar vermy klipperige gebiede, lang grasveld en digte bosveld. Die habitatkeuse hang af van die voedselplante wat beskikbaar is en die hoogte en digtheid van die plantegroei wat sig beïnvloed.

Dieet

Die dieet bestaan gemiddeld uit 32 persent gras, 66 persent blare en 2 persent wildevrugte. In die Karoo word ’n verskeidenheid bossies benut en in die Kalahari word veral die blare van die rosyntjiebessie Grewia flava gevreet. In sandveld grawe die springbok sappige wortels en ondergrondse plantorgane uit. Water met ’n hoë mineraalinhoud en minerale lekke word benut en hoewel die springbok nie afhanklik is van oop water nie sal hy 1,5 ℓ water per dag drink indien dit beskikbaar is en waterryke plante vir hulle voginhoud vreet. ’n Volwasse ram in die Kalahari vreet sowat 504 kg blaarkos per jaar en ’n ooi 409 kg op ’n droë-gewig-basis. Die grasse in die Kalahari se duine het ’n tekort aan stikstof en fosfor in die droë seisoen en springbokke daar verkies dan die fossielrivierbeddings en panne.

Kenmerke van ’n bevolking

Springbokke vorm groot troppe en volg die klank van donderweer na nuwe weiding. In die verlede het sulke springboktrekke reusetroppe gevorm. Gewoonlik vorm springbokke egter kleiner teeltroppe, territoriale ramme en ramtroppe. ’n Teeltrop sal deur die gebiede van verskeie territoriale ramme beweeg. Hierdie ramme merk hulle territoria met mishope. Die ooie is geslagsryp wanneer hulle 6 tot 12 maande oud is en die ramme wanneer hulle 12 tot 18 maande oud is. Paring duur 5 tot 23 dae en vind enige tyd van die jaar plaas, maar met ’n hoogtepunt in die reënseisoen wat van streek tot streek wissel. ’n Ooi in estrus kan met meer as een ram paar en ’n ram mag twee tot drie keer met so ’n ooi paar. ’n Ooi kan soms twee keer in een jaar lam. Dragtigheid duur 25 weke en die enkele lam weeg 4 tot 5 kg by geboorte, hoewel tweelinge ook bekend is. Die lam word in lang gras of onder ’n digte bos versteek vir die eerste twee dae ná geboorte en begin plantegroei vreet wanneer dit twee weke oud is. Die lammers vorm bedags kleutertroppe en die ooi het twee tepels maar soms vier. Die natuurlike geslagsyfer is ses tot agt volwasse ooie per ram. Al die volwasse ooie kan in ’n gegewe jaar dragtig wees en in die Namibwoestyn kan die bevolking teen 30 persent per jaar groei. Die lammers ondervind ’n hoë mortaliteit weens roofdiere.

Die springbok is vroeg in die oggend en laat in die middag aktief en rus tydens die warmste deel van die dag. Die bok se wit pens weerkaats 72 persent van die sonlig. Die kenmerkende pronk vind plaas wanneer daar gevaar dreig en is ’n vorm van alarm. Tydens hierdie gedrag spring ’n springbok tot 2 m hoog en vorentoe met die rug gekrom, die bene saamgebondel en die kop na onder gehou terwyl die pronk oopvou en die lang wit hare orent staan.

Bestuur en benutting

Die springbok kruip onderdeur heinings en ’n geëlektrifiseerde draad 250 tot 300 mm bokant die grondvlak en 225 mm weg van die wildwerende heining word aanbeveel.

Vang en vervoer

Springbokke kan in spesiaal ontwerpte vangkrale of met valnette gevang word. Vir chemiese immobilisering van ’n volwasse dier word 1 mg M-99 of 10 mg Fentanyl gebruik, albei saam met 20 mg asaperoon, met 2 mg M-5050 as teenmiddel. Vir A3080 word l mg saam met 10 mg xilasien gebruik. Korttermynkalmering vereis 10 tot 15 mg Haloperidol vir ’n volwasse dier, 5 mg vir ’n jong dier en 2 mg vir ’n lam terwyl 50 mg perfenasien-enantaat vir langtermynkalmering toegedien word.

Volwasse ramme word in enkelkratte onder kalmering vervoer terwyl 18 tot 22 ooie en jong diere in verdonkerde massakratte vervoer kan word met 0,35 m2 vloerspasie per dier. Die krat se vloer moet met ’n dik laag growwe sand of hooi bedek word.

Beladings

Die beladings wissel met reënval. ’n Breë belading is 0.15 Grootvee-eenhede per springbok (6.67 springbokke per Grootvee-eenheid) maar verfynde beladings is 0.31 Grasvreter-eenhede per springbok (3.23 springbokke per Grasvreter-eenheid) en 0.37 Blaarvreter-eenhede per springbok (2.70 springbokke per Blaarvreter-eenheid).

Vleis en lewende verkope

Springbokvleis is gesog en het 41,1 persent gevorm van die uitvoere van wildsvleis in 2008. In 2011 was die gemiddelde prys op wildveilings R1 392 vir ’n gewone springbok en R2 486 vir een vanaf die Kalahari. Die rekordprys van ’n gewone springbok is R2 400 en R2 650 vir een vanaf die Kalahari. Dit verteenwoordig R37,62 per kg vir ’n gemiddelde lewende gewone springbok van 37 kg in ’n bevolking. Die uitslag-persentasie van 56 persent lewer ’n karkas van ongeveer 4 tot 8 kg per gewone springbok.

Trofeejag

Die beste trofeë in Suid-Afrika kom in KwaZulu-Natal en die Vrystaat voor. Horings met ’n hartvormige voorkoms van voor gesien en dié wat meer as twee keer die lengte van die oor is, dui op ’n goeie trofee. Die beste trofeë op rekord is:

Rowland Ward: Minimum lengte: 14,000 duim (35,56 cm); beste: 19,375 duim (49,21 cm) en versamel deur BL Steenkamp in Namibië in 1973.

Safari Club International: Minimum vereiste: 30 punte; beste: 45,125 punte en versamel deur John L Estes in 1987.

Suid-Afrikaanse Metode: Minimum lengte: 13,500 duim (34,29 cm); beste: 17,3125 duim (43,97 cm) en versamel deur G Nel by Hinginzi in die Kalahari.

Geselekteerde bronne beskikbaar by die redakteur

 

Last modified onWednesday, 16 January 2013 14:35
More in this category: Sprokiesboom »

Leave a comment

Make sure you enter the (*) required information where indicated. HTML code is not allowed.

back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.