Menu

Sprokiesboom

Sprokiesboom Pieter van der Walt

Ons suiderlande se uitsonderlike plantverskeidenheid is ’n sprokiesverhaal wat nie genoeg as een van die streek se vername natuurbates en van die aardbol se skaars botaniese wonders benadruk word nie. Ietwat meer as 10 persent van die vaatplante, wat ongeveer 46 persent van alle sukkulente insluit, is hier op sowat 2,5 persent van die wêreld se oppervlak te vinde. Veral van belang is dat nagenoeg 60 persent van die plantsoorte endemies aan 13 kleine streke is.

Herkoms van streekskleinode

Die kleine Kaokoveld Sentrum in die verre bergagtige noordwestelike hoek van Namibiё versinnebeeld dat dorheid nie kosbaarheid uitsluit nie. Dis hier waar die mistieke sprokies- of meelsakboom (phantom tree, African moringo, omutindi) Moringa ovalifolia (RSA-boomnr 137), ons enigste verteenwoordiger van die Moringaceae (peperwortelfamilie), as alleenstaande, skildermooi geraamtes met meer tak as blaar panoramas verryk. Saam met berg en kliprant bied dié skaarse eiendomlikheid strelende profiele wat aan boomromantiek ’n besondere ervaring in dié gewilde wildernis gee.

Kaokoland (okoako = linkerarm; in die Hererotaal verwys dit na die gebied se linkse ligging aan die Kunenerivier) is ’n vêraf, uiters dorre, skouspelagtige bergstreek met diep ingesnyde, grasryke valleie. Die boesmangrasvlaktes is bestrooi met sandkraaltjies (fairy rings) as ’n verdere feegeheim – byna ronde, steriele sandkerne van 2–5 m in deursnee en met ’n digtheid van 11–47/ha, met weinig groei daarop. Die kleurryke voor-Namib-gruisaflope met volop Welwitschia mirabilis-oerplante aan die westekant vorm deel van die endemiese sentrum, veral as gevolg van die voorkoms van ’n verstommende 46 persent endemiese vetplante. Hierdie kroonjuwele van die botaniese ryk met hulle buitengewone onderbou, het die goeie uit baie soorte generasies behou en vervolmaak in een van die wêreld se ongenaakbaarste omgewings.

Die gemiddelde hoogte van die hoofsaaklik granietagtige hooglande as ’n verlenging van die Groot Platorand wat Suider-Afrika se binnelande grootliks van sy kusstreke skei – is 1 000–1 300 m met menige pieke veral in die noorde wat 1 800 m oorskry. Die sporadiese laatsomerreёn in die snikhete klipveld wissel van 100 mm in die laagtes tot 350 mm per jaar vir hoë dele.

Kaiingveld

Terwyl aristokratiese, bonkige kremetartbome Adansonia digitata (W&J, Sept 2008) die oostelike bosveld se kliprante domineer, vang die sprokiesboom as ’n byna-kremetart in die kleine gereeld die oog in die westelike klipveld. Dit benadruk dat ’n klipbedekking ’n besondere ekologiese rol vervul. Klippe van allerlei herkoms, grootte en vorm roep vandag inderdaad oral ten hemele omdat hul rol in die natuur steeds nie herken en erken word nie. Dis nie maar ’n entiteit wat net so goed op ’n ander plek kan rondlê nie. Baie klippe het in ’n bose kringloop hul weg na klipmandjies gevind; hierdie klippe was waarskynlik veronderstel om ’n donga te rehabiliteer, wat weens vroeёre oorbeweiding ontstaan het omdat klippe daar vir ’n kraalmuur of woonhuis gebruik is.

Kaiingveld waarin los klippe van allerlei groottes rondgestrooi lê, is veral in ons dorvelde bekend. Veral Karoo- en die torra(klip)veld van Damaraland in Namibiё is hiervoor bekend. Voorskootvelde aan die voetenente van koppies, rante en berge se diep, vrugbare gronde is met klippe bestrooi, synde brokstukke van hoёrliggende, groot rotse. Die digtheid van klippe verminder met afstand in die aanliggende vlakte- of platoveld. ’n Klip se vername voordele is:

  • Groter rotsblokke skep aspekverskille rondom hulle soos koeler en warm kante wat vir hulle bywoners van groot oorlewingswaarde is.
  • Klippe versamel waaisand en behou kompos wat met tyd ’n gunstiger groei- en leefmedium vir plant en dier skep.
  • Klippe voorkom dat veral grasse se laagliggende groeipunte deur beweiers bygekom kan word. ’n Goeie klipstand is dus uitstekende versekering teen oorbeweiding, ongeag die dierelading wat die veld hamer. Die feit is dat oormatige beweiding van grondvlakplantegroei soos grasse, kruide en dwergstruikies primêr die oorsaak van veldontbloting is.
  •  
  • Gekonsentreerde reёnwaterafloop vanaf ’n klip verseker meer langdurige, koeler en natter groeitoestande. Geil plantstande aan die basisse van groot granietrotskoepels getuig daarvan.

Stroping van kaiingveld van sy kosbare klipbates het al menige produktiewe, heterogene klimaksveld tot ’n homogene opslagplantstand met min lewe omvorm wat uiters kwesbaar vir droogtes is. Damaraland met sy skaars renoster- en olifantbevolkings se torraveld waak steeds suksesvol teen wildstropers se indringing. 

Boomfrats

Terwyl ons eie opsigtelike sprokiesboom van tot 8 m hoog knus floreer as ’n byna onbekende in ’n veraf uithoek, is van die wêreld se 13 bottelboomagtige moringasoorte in hul tuislande hoeka al uitgesterf weens hul medisinale, voedings- en seremoniёle waarde. Herbariumversamelings van Madagaskar se twee endemiese soorte M. hildebrandtii en M. drouhardii is sedert 1880 afkomstig van aanplantings rondom dorpies of grafte. Die tradisie om veral eersgenoemde as maklik aanplantbare sierbome en vir hul sade as medisyne te vestig, verseker dat dié boom nie soos honderde ander op hierdie erg gestroopte tropiese eiland in die vergetelheid raak nie.

Met al die vinnig groeiende moringasoorte wat kenmerkend in semi-ariede, tropiese groeiplekke gevind word, is dekade lange navorsing oor hul gebruikswaarde slegs op die Indiese moringo of peperwortel M. oleifera (ben, drumstick of horseradish tree) gedoen. Dit is ’n veelsydige boom wat al eeue lank deur plaaslikes benut word en wat dus in baie warm wêrelddele van saad groei maar nie juis op kommersiële skaal soos in Asiё nie. Die Indiese kerriekookkuns se behoefte aan ’n brandasem word ryklik bevredig deur die moringo se gekookte, sagte, byna ronde veerblare, mineraal- en vitamienryke sade en peperwortels. Hul bekende slaaisous bekend as oil of ben is juis van dié vetryke sade afkomstig. Hierdie moringo het baie lank gelede nie onverwags sy weg saam met Indiёrs na Suider-Afrika gevind nie. Vele aanplantings in die dorre Zambezivallei word reeds as inheems gereken.

Die tradisionele nutswaarde van dié bladwisselende sprokiesboom is by verre nie dié van die peperwortel of kremetart nie. Sy rou wortels smaak suur en is al wat deur die mens geёet word, vernaamlik om ’n knaende dors te les. Die sponsbas en bros hout (melerig wanneer dood = meelsakboom) is van geen braai- of timmerhoutwaarde nie. Saam met die wortels, ovaal blare (ovalis = ovaal en folium = blaar), soetruikende, roomkleurige blompluime en grysbruin 400 mm lange sambokpeule, is dit egter groot kos vir veral olifante, kameelperde, ystervarke en wildsbokke.

Juis daarom het die Nasionale Etoshawildtuin se sonderlinge sprokies-, spook- of heksewoud sy woudstatus al grootliks verloor. Dié groot “plantasie” van ongeveer 1 km² groot, wat eensklaps in ’n ongewoon kliplose, kalkerige, groot vlakte verskyn, omring deur ’n bossiestand, ontlok vele verklarings. Die aanplant deur vroeёre bewoners lyk waarskynlik. Die Hai//om-mense van Etosha is egter oortuig van ’n tweёrlei herkoms soos dit in hulle volksverhale oorvertel word. Enersyds het hul groot god van natuur nog moringas oorgehad toe hy aan elke plant en dier ’n plek op aarde gegee het. Andersyds wou hul god van donder nie moringas in die paradys gehad het nie, waarna hulle uitgetrek is. In albei gevalle is hulle as ’n bondel na die aarde gewerp. Net soos die kremetart het hulle toe kop eerste die aarde getref met hulle wortels na bo.

Die legendes rondom verskeie stamsukkulente soos die kremetart, halfmens, bottelboom en nou die sprokiesboom wat in die reeks beskryf is, maak van hulle pronkstukke van Afrika-simbole – pronkstukke wat vir die spesiale oog net maar ’n lus tot weer kyk wek.

Hierdie artikel is verkort – lees die volledige artikel in die Februarie-uitgawe van WILD & JAG.

Volgende keer: Ouhout

Pieter van der Walt, tel (012) 329 0037, This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

 

 

More in this category: « Die Springbok Jagwenke »

Leave a comment

Make sure you enter the (*) required information where indicated. HTML code is not allowed.

back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.