Menu

Oor Kakibers en Keuses

DEEL 6

 

.22 Senterslag-kalibers – (1) Die .22 Hornet

 

Deur Skietstok

 

Historiese notas

Die .22 Hornet is gebaseer op die swartkruit-.22 WCF en is tydens die laat 1920’s en vroeë 1930’s ontwikkel. Die .22 WCF (bekendgestel in 1885) is verskeie jare voor die ontwikkeling van die Hornet in Europa gemoderniseer, waar dit as die 5.6 x 35 R bekend was. Reuben Harwood het in 1894 ’n 45 gr-koeël gebruik en die snelheid van die .22 WCF van 1 540 voet per sekonde (vps) tot 1 900 vps verhoog, en dit die Hornet genoem. ’n Groep eksperimenteerders, waaronder kol Townsend Whelen en kapt GL Wotkyns, destyds werksaam by die Springfield-wapenfabriek, verdien erkenning vir die bekendstelling van die .22 Hornet, ná hulle snelhede tot tussen 2 400 en 2 500 vps verhoog het. Die oorspronklike gewere was geskoei op die Springfield- militêre en Martini-enkelskootaksies.

 

Deur van meer effektiewe dryfmiddels gebruik te maak, is die snelheid later verhoog tot 2 700 vps. Dit was ’n groot aansporing vir die kaliber se gewildheid, en vervaardigers vanoor die wêreld het gewere vir dié klein patroon gekamer. (In Augustus 1932 was Savage egter die eerste maatskappy om dié kaliber kommersieel te vervaardig, gevolg deur Winchester in Februarie 1933). Die eerste kommersiële ammunisie vir die kaliber is reeds in 1930 deur Winchester vervaardig, waarna dit binne enkele jare deur al die Amerikaanse vervaardigers gestandaardiseer is.

 

Gedurende die 1950’s het “magnum-manie” wêreldwyd posgevat, wat tot gevolg gehad het dat die besadigde 2 700 vps nie goed genoeg was vir langafstand-probleemdierbeheer nie. Terloops, die meeste fabriekladings kom nie naby aan die gepubliseerde 2 700 vps nie, en selfs met herlaai is dit moeilik om met die 45 gr-koeël ’n snelheid van meer as 2 600 vps te verkry. Vir bykans twee dekades het skuts dus die Hornet afgeskeep, met die gevolg dat vervaardigers produksie van gewere en ammunisie in daardie kaliber gestaak het. Dit was eers in die 1980’s dat die Hornet weer ontwaak het, veral ná Brno (CZ) en Anschütz weer gewere in daardie kaliber beskikbaar gestel het.

 

Algemeen

Die .22 Hornet was die eerste kleinboor-, hoësnelheidpatroon wat in Amerika spesifiek vir probleemdierbeheer en die jag van kleinwild bemark is. Aangesien dit slegs in grendel- en enkelskootaksies beskikbaar was, het dit ’n reputasie vir puik akkuraatheid by alle praktiese afstande ontwikkel. Probleemdierbeheer soos toegepas in Amerika is nie so algemeen en gevolglik nie so gewild in SA nie. Suid-Afrikaanse jagters verkies om eetbare wild te skiet en kies daarom die kragtiger .222, .223 of .22-250 kalibers vir gebruik op kleinwild soos springbokke, ribbokke of rooibokke.

 

Die Hornet as kaliber vir probleemdierbeheer is geskik vir skote van 150–200 m, maar is met konvensionele koeëls nie die ideale kandidaat vir die jag van springbokgrootte wild nie, behalwe op baie kort afstand. Dr Ed Ashby, ’n uiters ervare jagter, ballistiese kenner en eksperimenteerder met verskillende kalibers en koeëlkombinasies op wild, het egter bewys dat, met die oordeelkundige gebruik van 45 gr-Barnes X-koeëls teen ongeveer 2 450 vps, ’n uitstekende omklinking/penetrasie-kombinasie verkry word, wat heeltemal voldoende is vir bladskote op wildsoorte soos rooibokke en vlakvarke tot op 250 m. Hy het gevind dat die oorgrote meerderheid van koeëls op afstande van tot 200 m, wat die dwarsstaande dier op die blad tref, dwarsdeur die dier penetreer, wat nie die geval is met presies dieselfde koeëls teen ’n heelwat vinniger snelheid (3 750 vps) gevuur uit ’n .22-250 nie. Terminale ballistiek (dit wat binne die teiken plaasvind) het tot gevolg dat omklinking weens die hoë koeëlsnelheid in laasgenoemde geval te vinnig plaasvind. Dit beteken dat die koeël as gevolg van die groter frontale area vroeg tydens terminale ballistiek meer weerstand in die spierweefsel ondervind, wat gevolglik penetrasie inhibeer.

 

Ingevoerde ammunisie (die Hornet se koeëls word nie in SA vervaardig nie) is baie duur en vir herlaaiers is dit slegs S265, as plaaslik vervaardigde dryfmiddel, wat geskik is vir gebruik in dié kaliber. Vir die 45 gr-Barnes X of Speer-sagtepunte werk 10.2–10.4 gr-S265 goed vir ’n snelheid van ongeveer 2 440 vps. PMP sou op ’n stadium ammunisie vir dié kaliber vervaardig maar dit het nooit gematerialiseer nie. Ongeveer 10.5 gr-MP300 (vir handwapens) werk ook goed met 45 gr-koeëls.

 

LW: Werk asseblief alle handladings versigtig op vir jou eie, spesifieke geweerdimensies en herlaaikomponente. W&J of enige van sy medewerkers aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige teenspoed wat die gevolg mag wees van die gebruik van voorgestelde ladings nie.

 

Plaaslike plaagdierskuts skiet heelwat kraaie, blouape en dassies, en dan meesal op afstande onder 200 m, waarvoor die Hornet besonder geskik is. Die gewildste kaliber vir dassies is die .22 Langgeweer, hoewel dit nie die geskikste kaliber daarvoor is nie. Met laasgenoemde is skietafstand beperk tot 50 m as gevolg van koeëlval op langer afstande, wat skootplasing bemoeilik. Met die Hornet sal ’n amperse doodskoot die dassie gewoonlik anker vir ’n opvolgskoot. Kleinwild soos steenbokke, duikers, dik-dikke, klipspringers, ens kan baie effektief met die Hornet gejag word, selfs al word konvensionele koeëls gebruik. ’n Koeël van 45 gr teen ongeveer 2 400 vps het ’n doodmaakvermoë tot by ongeveer 175 m en vleisskade is minimaal. As gevolg van die matige snelheid is koeëls minder geneig om met impak tydens kop- of nekskote op te breek, maar skote op springbokgrootte wild behoort tot 100 m beperk te word. ’n Geweer met teleskoop gezero 1 duim hoog op 100 m behoort op 150 m ongeveer 0.2“ laag te wees, en op 200 m sowat 6.5”.

 

Die lae steuringsfaktor (relatief sagte knal), verminderde kanse vir opslagkoeëls van die Hornet in bewoonde gebiede en amperse afwesigheid van terugspring maak dit die ideale senterslagkaliber om jong jagters mee te laat oefen / jag. Ten spyte van die hoë koste van fabrieksammunisie kan herlaaiers relatief goedkoop skiet (tot 700 ladings uit 1 blik dryfmiddel), met .22-koeëls wat relatief volop en goedkoop is. Die kanse om ’n Hornet se loop in jou, jou seun en jou kleinseun se lewe uit te skiet, is uiters skraal.

 

Wees bedag daarop dat oor-smering tydens dophervorming tot olieduike kan lei weens die Hornet se sagte doppe.

 

Die .22 K-Hornet

In 1980 het Lysle Kilbourne die Hornet se werkverrigting verhoog deur die klein patroondop effens te vergroot. Deur die meeste van die dopafspitsing (taper) te verwyder, die skouer vorentoe te skuif en dit tot ’n skerp hoek van 35 grade te verander, is dopkapasiteit met ongeveer 10 persent verhoog, met ’n gepaardgaande snelheidsverhoging van ongeveer 200 vps, wat die effektiewe skietafstande met sowat 50 m verhoog. Die sogenaamde .22K-Hornet (vernoem na Kilbourne) was een van die eerste van die sogenaamde “verbeterde” (improved) kalibers, waarvan sommige baie gewild geword het.

 

Die K-Hornet is “warmer” as die standaard-Hornet, maar laasgenoemde se patrone kan daarin afgevuur word (dis die enigste manier om doppe daarvoor te vorm). Dit het bygedra tot die gewildheid daarvan totdat laasgenoemde deur die warmer .22 senterslagkalibers soos die .222, .223 en .22-250 uitgedwing is.

 

S265 (13 gr met ’n 45 gr-koeël vir ongeveer 2 900 vps) is die enigste Suid-Afrikaanse dryfmiddel geskik vir die K-Hornet, maar eksperimentering met MP200 kan goeie resultate met die ligter 35 gr-koeëls lewer.

 

Jagters / skuts wat ’n .22 Hornet of sy verbeterde boetie besit, sal nie maklik daarvan ontslae raak nie. Dis ’n lekker kaliber vir plink-skiet, is heeltemal bruikbaar vir die verantwoordelike jag van klein plaagdiere en kan, wanneer die nood druk, sorg vir potvleis, solank daar nie wild groter as rooibokke gejag word nie.

 

Leave a comment

Make sure you enter the (*) required information where indicated. HTML code is not allowed.

back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.