Menu

Oor Kalibers en Keuses Deel 7

Die .222 Remington is ontwikkel om die gaping tussen die .22 Hornet (links) en die .220 Swift (regs) te vul. Daar is weinig verskil tussen die .222 (links) en .223 (regs).

 

.22 Senterslagkalibers

 

(2) .222 Remington & .223 Remington

 

.222 Remington

Mike Walker het hierdie kaliber ontwikkel en Remington het dit in 1950 bekendgestel vir hul Mod 722-grendelaksiegeweer. Dis ʼn oorspronklike ontwerp (met ander woorde dit is nie gegrond op ʼn bestaande patroondop wat af-genek is nie), en kan beskryf word as ʼn amperse afgeskaalde variasie van die .30-06. Die kaliber het ʼn reputasie as ʼn potensieel uiters akkurate kaliber. Dit word beskou as ʼn puik kaliber vir 200 tot 250 meter skote, wat uitstekend presteer op probleemdiere soos rooijakkalse en rooikatte (of wildemakoue en kolganse in omgewings waar hulle ʼn pes raak), asook mini-wildspesies soos duikers, steenbokke en klipspringers. Dit kan selfs deur verantwoordelike jagters op kleinwild soos springbokke en rooiribbokke aangewend word indien primagehalte koeëls gebruik word.

Dit is ontwikkel om die gaping tussen die .22 Hornet en .220 Swift te vul. Eksperimentele fabriekladings met 45 gr-koeëls het snelhede van tot 3 135 vps geklok, maar hierdie koeëls het nie konstant “ontplof” op klein probleemdiere nie, wat Remington genoop het om dit met ʼn 50 gr-dunwandkoeël te vervang. Die snelheid is terselfdertyd na 3 200 vps opgestoot, wat tot gevolg gehad het dat probleemdierskuts baie gou verlief geraak het op hierdie kaliber. Die naam .222 is egter effens misleidend aangesien die koeëldeursnee .224“ is, nes al die moderne .22 senterslagkalibers, maar vir Remington het hierdie fonetiese alliterasie in hul bemarkingsveldtog vrugte afgewerp. In Amerika staan die .222 Rem bekend as die triple deuce, maar in Suid-Afrika praat ons meestal van die “trippel-twee”.

Deel van die suksesresep vir die .222 Rem was die besondere akkuraatheid, matige knal, ignoreerbare terugskop en die feit dat dit in bekostigbare, dog hoëgehalte grendelaksiegewere aangebied is. Kort ná die bekendstelling van die kaliber het skiettafelskuts die .222 Rem begin gebruik om baie kompetisies te wen, en in 1953 het Olive Walker ʼn 10 skoot-groepering oor 100 treë van .3 268” geskiet om ʼn nuwe wêreldrekord daar te stel. Die kaliber het tot in die 1980’s die skiettafelkompetisies oorheers, waarna ander kalibers soos die 6mm PPC, 6mm XC en ander begin oorheers het.

Die .222 Remington is ʼn uitstekende probleemdierkaliber met 50–55 gr-koeëls, solank aanwending tot 250 m beperk word in lae windsnelheidtoestande. Hoësnelheid-dwarswinde of rukwinde het ʼn uiters negatiewe invloed op akkuraatheid, en die .222 moet liefs nie onder sulke omstandighede gebruik word nie!

Vir die jag van miniwild soos steenbokke en duikers werk dit goed, solank die afstande betrokke nie nader as sowat 150 m is nie. Die hoë koeëlimpaksnelheid kan uitermatige vleisskade by bladskote veroorsaak. Met primagehaltekoeëls, in ervare en verantwoordelike jagters se hande, kan dit in ideale omstandighede vir kleinwild soos springbokke en rooi ribbokke vir agter-die-bladskote aangewend word, maar vir groter wild soos rooibokke en blesbokke met ʼn swaarder beenstruktuur kan dit waarskynlik kwesrisiko’s inhou, en behoort liefs vermy te word.

Selfs standaardgehalte, dun-wand 50–55 gr-probleemdierkoeëls uit fabrieksrondtes kan op die skedels van genoemde kleinwild opblaas sonder om die brein af te skakel. Ongelukkig het heelwat onverantwoordelike jagters in die verlede met hierdie kaliber gereeld kanse gevat daarmee, wat gelei het tot ʼn swak reputasie wat die “naam ”trippel-twee” onder boere laat verander het na “kruppel-twee”, na aanleiding van die gereelde kwesskote wat daarmee geskiet is. Dit het daartoe gelei dat baie van hulle die gebruik daarvan op enigiets groter as ʼn duiker verbied het.

Die .222 Remington-patroon is maklik om te herlaai, met geen bekende komplikasies nie. Herlaaikomponente is geredelik beskikbaar, met koeëlgewigte vanaf 50–55 grein wat volop op geweerwinkelrakke voorkom. Ons plaaslik vervaardigde S321-dryfmiddel werk goed, en selfs met 55 gr-koeëls word snelhede van tot 3 250 vps maklik bereik. Hoewel 63 gr- en 70 gr-koeëls beskikbaar is, werk dit gewoonlik nie goed ten opsigte van akkuraatheid nie, grotendeels as gevolg van die standaard 1-in-14”-groefdraai. Eksperimentering met pistoolkruit (MP200) kan ook goeie resultate oplewer, veral met verminderde ladings, wat laer snelhede en gevolglik minder vleisskade tot gevolg het op eetbare wild.

Ge-zero op 200 m met 55 gr-koeëls is die koeël-val op 300 m ongeveer 8½”. Beperk dus maar lyfskote met dié kaliber op springbokgrootte wild tot 250 m.

 

.223 Remington

Vir alle praktiese jagdoeleindes verskil hierdie kaliber ballisties nie veel van die .222 Rem nie. Dis effens kragtiger, maar ook effens minder akkuraat. Die effens groter dop- (met ander woorde dryfmiddel) kapasiteit van die .223 het met gebruik van ʼn 45 gr-koeël ʼn snelheidsvoordeel van sowat 150 vps, en met die 55 gr-koeël slegs sowat 30 vps bó die van die .222.

Die .223 Remington is nie slegs die gewildste van al die .22 senterslagkalibers nie, maar dis waarskynlik ook een van die gewildste geweerkalibers. ʼn Mate van hierdie gewildheid is waarskynlik te danke aan die beskikbaarheid van goedkoop militêre doppe en ammunisie, aangesien die kaliber (in die vorm van die 5.56x45) as die offisiële Nato militêre rondte aanvaar is, wat beskikbaarheid daarvan in baie lande bevoordeel het. In Suid-Afrika word ons bekende R4 nog steeds met hierdie rondte gebruik. Die oorgrote meerderheid geweervervaardigers vervaardig tans gewere in hierdie kaliber, hoewel Remington die eerste was wat die siviele eweknie van die militêre rondte bekendgestel het.

 

Historiese aantekeninge

Hoewel dié kaliber sy oorsprong in Amerika het, is ons waarskynlik dank daarvoor verskuldig aan die Duitsers. Hulle het die eerste ten volle-outomatiese aanvalsoort gewere tydens die Tweede Wêreldoorlog ontwikkel (die MKB42 en Sturmgewehr-44). Hul amptelike militêre rondte, die 8x57, was te kragtig vir akkurate vol-outomatiese vuur in handgreepgewere, wat tot gevolg gehad het dat hulle ʼn korter variasie daarvan, die 7.9x33 Kurz, ontwikkel het. Dit het ʼn 125 gr-koeël teen 2 250 vps uit die Sturmgewehr se 16 duim-loop gelanseer, wat die Russe só beïnvloed het dat hulle die idee nageaap het om die AK47 vir die 7.62x39 patroon te ontwikkel. Om hiermee tred te hou, het die Amerikaners die .30-06 in die 1950’s verkort om die 7.62x51 mm die lig te laat sien. Vir militêre doeleindes (as ligte infanterie-rondte) was dit nie so doeltreffend soos die Duitse en Russiese eweknieë nie, aangesien die ammunisie swaar en groot was, en onbeheerbaar in vol-outomatiese vuur. Hulle was op soek na ʼn plattrajekpatroon, wat die koeëlsnelheid tot by 500 treë bokant dié van klank sou hou, om sodoende te verbeter op die beperkte doeltreffende reikafstand van hul opposisie se rondtes. Hulle kon dit slegs bereik deur ʼn kompakte rondte wat beheerbaar is tydens vol-outomatiese vuur, te ontwikkel, wat hulle genoop het om die kaliber en koeëlgewig te verlaag.

VSA- militêre ordinansie ʼn .22 senterslagrondte aanvaar, maar hoewel die bestaande .222 Remington byna aan die ballistiese kriteria voldoen het, was daar ʼn paar tekortkominge. Remington het daarom ʼn effens kragtiger rondte ontwikkel, nl die .222 Remington Magnum, maar op die ou end het die militêre ordinansie die 5.56x45 patroon, wat deur Bob Hutton (toe tegniese redakteur van Guns & Ammo) en Gene Stoner van Armalite ontwikkel is, aanvaar. Dit het ʼn langer dop met korter nek as die .222 Remington gehad, en het ʼn 55 gr-koeël teen 3 200 vps gelanseer. Dis in 1964 amptelik as Amerika se nuwe gevegrondte aanvaar, waarvoor dit aanvanklik in die AR-15 geweer, wat later die M16 geword het, gekamer is. Kort daarna is die siviele weergawe daarvan deur Remington bekend gestel.

 

Algemeen

Hoewel die .22-250 Rem heelwat vinniger is, is die .223 goedkoper om te skiet, hou die lope langer, is daar minder tromp-lugslag (muzzle blast) en terugskop, is dit akkuraat en skiet dit plat genoeg vir praktiese jagdoeleindes. Jagaanwending van die .223 is soortgelyk aan dié van die .222 soos hierbo bespreek.

 

In die volgende bydrae gaan ons voort met die .22 senterslagkalibers, en word die .22–250 Rem en .220 Swift bespreek.

 

SO MOET DIT WEES – In die vorige artikel in hierdie reeks, “Kalibers & keuses .22 Senterslag-kalibers – (1) Die .22 Hornet”, is daar wat ingevoerde ammunisie betref genoem dat die Hornet se koeëls nie in SA vervaardig word nie. In der waarheid het PMP in 1996 sowat 50 000 vervaardig.

Last modified onSunday, 17 February 2013 21:53
back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.