Menu

Ouhout


Uitgeblomde ouhout met talle saadjies

Pieter van der Walt

’n Weswaartse blik vanuit die boombesaaide Laeveld vervul jou met die betowering van allerlei flanke van ’n 968 km lange Drakensbergreeks. Matriarg van ons droomste berge wat laer trek om kosbare hooglandnatuurskatte met oorblywende ritse sandsteenbergkranse en spiese (Zoeloe: uKhahlamba = ry van regopstaande spiese). Deel daarvan is ’n landsgrens met Lesotho.

Die Boberg se donker basaltlawa van tot 150 m dik, vertoon byna boom- of struiklose lappe wuiwende rooigrasengtes wat wintertyd tot ’n droё massa versuur maar het darem hordes groen kruide as oorleefkos. Dit bedek deels die Kleinberg (1 670–1 800 m) se reeks kenmerkende 90 m dik, brose geelroom holkrans-sandsteenberguitlopers met diep valleie en skone bergstrome tussenin. Allerlei kaal uitgekerfde vorme, swart gestreep deur syferende basaltwatertjies, bied besonderse karakter. Al dié sware massas rus maar op ’n fondament van klei wat erosiewerking van sagte, rooi moddersteen en grys skaliebeddings ’n algemene gesig maak – aangehelp deur te veel mensevoete en dierekloue.

Dis ook hier waar een van die grasveld se baasbekruipers of senterplante opsigtelik floreer, wat gapings onder uiterste weidruk of oorgroei weens lange afwesigheid van vuur kan vat. Ouhout, oubos, oubaas, bros- of geelhout (old- of troutwood, isiDwadwa in Zoeloe) – Leucosidea sericea (Rosaceae), RSA-boomnr 145 – is ’n bobaasvasbyter en opportunis met ’n lewenskuns waaruit veel te leer is. Dit is inherent ’n wegbereider of bosvoorloper, eienaardig vuurbestand, wat die aanloop vir vuur tot ’n woudstand bemoeilik en so die weg tot boshergroei van die genoemde vuursensitiewe inheemse boomsoorte fasiliteer.

Die eintlik slordige en baie kenmerkende ouhout (tegelyk boom en struik) is hier so eie soos die berglysters en fluitrot aan die “Berg van Vuur”, soos die eertydse Portugese seevaarders dié bergland van ver gekenteken het. ’n Toonbeeld geslyp soos ’n amperse pionierplant wat, kom wat wil, in harmonie met erge omgewingsdryfvere sal oorleef. ’n Merkwaardige boomhindernis sonder dorings wat sy eie en meer prikkelbare meelopers – soos die rankende braambos Rubus pinnatus (bramble of blackberry) waarin jy maklik verstrengel raak op soek na sy smullekker steenvruggies – se groeiplek vir môre jaloers beskerm. Byna soos roofdiere wat met klierafskeidings indringers uit hul tuisgebied weer.

Ouhout en die braambos vorm saam en afsonderlik op menige plekke ondeurdringbare boskasies. ’n Weg van die bekende verbossing of veldomvorming in ons oorbeweide dorvelde (W & J, Sept 2012) – hier aangehelp deur veral onderbeweiding as ’n herstel van ’n vorige woudstand. Beskou hierdie bosverdigting dus as bloot ’n natuurlike plantontwikkeling waarin die mens oplaas ’n mindere hand het. Fisiese of chemiese ingrype om dit ter wille van grasontwikkeling te keer, is dwaas.

Ouhout floreer in ’n koel klimaat danksy sy verwantskap met die roosfamilie. Dis moeilik om te glo weens ouhout se obskure blom en vrug. Saam met die grasfamilie Poaceae is hulle sekerlik die wêreld se belangrikste plantgroepe want saam voed hulle die mensdom oordadig in vele vorme. Die roos, die bekendste blomsoort wat vereer word as strelende voeder van die menslike gees, tipeer die omvangryke 120 genera en 3 000 spesieryke familie. Bekende vrugtesoorte soos appels, pere, pruime, perskes, appelkose, kwepers, nektariens, amandels, kersies en aarbeie is deel daarvan. Hul herkoms kan na die Noordelike Halfrond se koele engtes teruggevoer word.

Algar van dié lekkerte floreer nou al vir dekades in die koulike maar pragtige Oos-Vrystaatse bergland. Daar bied dit saam met koring- en lusernlande asook troppe mofskape ’n nuttige, diverse uitkoms aan landmanne noudat die trekwild opgedroog het.

Die appel (Malus spp.) en peer (Pyrus spp.) is sedert 4 000 jaar oue klassieke tye die mens se mees geliefde kommersiële vrugtesoorte wat uit Asiё en Europa spruit. Sedert die verleidelike appel ook nog op Newton van swaartekragfaam, se kop geval het toe hy onder die Flower of Kent-appelboom gepeins het, is verskeie eeu oue appel- en peerbome ook in Suid-Afrika as boommonumente vertroetel, onder meer in Pretoria (WNNR), Stellenbosch (Infruitec), Beaufort-Wes (Hooyvlakte), Bloemfontein, Kuruman, Genadendal en op verskeie Karooplase.

Twee bekende groot bome behorende tot die roosfamilie in ons oostelike bergwoude en bosveld verklaar verder die belang van die inheemse komponent daarvan. Die rooistinkhout (red stinkwood, African, bitter of wild almond) – Prunus africana (RSA-boomnr 147) – is meer vir sy rooibruin meubelhout as vir sy kleine steenvruggies (bospruime) bekend. As bekende tuinboom is hy nie aan sy beroemde naamgenoot, die stinkhout Ocotea bullata, verwant nie. Die sandbosveld se skaarse grysappel (Mobola plum) – Parinari curatellifolia (RSA-boomnr 146) – se groterige, bruingeel gespikkelde steenvrugte wat na kwepers smaak, word op die grond ryp wat hulle beskikbaarheid as vername veldkos vir die mens beperk.

Verkneukelde volmaaktheid

Die oorwegende klem in volks- of noemname op die oudheid van die geharde ouhout as deurmekaar struiksensasie, spruit sekerlik uit sy wetenskaplike omskrywing in twee klassieke tale. Die Griekse woord leucosidea dui op ’n wit of grys voorkoms terwyl die Latynse woord sericea nadruk op die blare se syagtige harigheid lê. Voeg daarby nog ’n anderse verwronge en veelstammige takkarakter, bedek met ’n donkerbruin, growwe skilferbas wat vuur trek om die sagte, ligte, fyn en elastiese grein soos ou, verrotte hout te laat brand. Ouhout vrot egter nie maklik in vleierigheid nie en die skaars, dik takke word nogal as heiningpale gebruik. As braaihout gee dit bruikbare gloeikole so goed soos wingerdhout.

Afhangend van hoe lanklaas ’n ruie, immergroen ouhoutstand gebrand het, word ’n boskasie so 2–3 m hoog met ’n uitstaan-, beskutte, ronde kroon en meer groenerige bome tot 7 m hoog. Ouhout is groei vinnig, is rypbestand en kweek maklik van die kleine saadjies maar kom min in tuine voor. Die saadbank word geil elke jaar deur ’n ryke blomoes van gelerige are aan takeindpunte aangevul. Spruiting van veral vuurgeprikkelde groeipunte op grondvlak en saailinge dra veral tot verbossing by. Die digtheid van ’n ouhoutstand bepaal die oorlewingskoers van saailinge. ’n Gespook na nodige sonenergie maak dat ’n oop groeiplek gesog is. Bystandsaailinge is altyd daar om vinnig gebrande ouer plante se plek te vat.

'n Saadsiftingsproses verseker dat slegs sterk saailinge ontkiem en grootword. Ten minste ’n jaar van rypword onderlê hierdie keuring in erge temperatuurspelings en bergwindtoestande.

Die aromatiese, digte, onewe-geveerde blaardrag se rande is diep getand en het ’n donkergroen bokant en harerige grysgroen onderkant met uitstaan-are. Lentetyd in die suurveld is weiding maar skaars en voorsien spruitende ouhoutblaartjies en blommetjies darem in ’n mate kos. Medisinaal genees ’n blaarpasta knaende oogontsteking terwyl die drink van ’n blaartreksel nie onverwags jou ontwurm nie.

Ouhout is maar een van ons land se vele lewensvorme wat oor tyd ’n volmaaktheid van hul funksie in dié pragtige bergland bereik het. Sy sukses vloei veral voort uit ’n aanpassingsvermoё om in geil- tot sukkelveld te floreer.

Hierdie artikel is verkort – lees die volledige artikel in die Maart-uitgawe van WILD & JAG.

Volgende keer: Blinkblaar-wag-’n-bietjie

Dr Pieter van der Walt, tel (012) 329 0037, e-pos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

More in this category: « Slenters met wildvleis
back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.