Menu

Die Gemsbok

 

Foto: ©NSP-RF / Alamy / AfriPics.com

Oryx gazella

J du P Bothma

Die naam “gemsbok” verwys na ’n soort Oryx wat net in Suidelike Afrika voorkom maar daar is drie ander soorte wat elders in Afrika en die Arabiese Skiereiland aangetref word. Die herkoms van die naam “gemsbok” is onseker. Fossiele van Oryx is uit Afrika bekend in afsettings wat 5 tot 2 miljoen jaar oud is. Oryx het waarskynlik sowat 6,5 miljoen jaar gelede van ’n gemeenskaplike voorouer van die hartbeeste, tsessebe, blesbok en bontebok in Afrika begin vertak.

Die gemsbok is oorspronklik al in 1758 wetenskaplik as ’n soort bok Capra gazella deur Linnaeus beskryf op grond van ’n eksemplaar wat as komende uit Indië aangedui is. Hierdie fout is eers in 1911 deur Thomas reggestel hoewel die genusnaam Oryx al in 1816 deur De Blainville geskep is. Daar is geen subspesies van die gemsbok nie. Die bewaringstatus van die gemsbok is veilig maar die kunsmatige teling van kleurvariasies soos die goue gemsbok kan die natuurlike bevolking bedreig indien hulle geneties met die gewone gemsbok vermeng word.

Die metabolisme van die gemsbok is aangepas om vog te bewaar deur die liggaam se temperatuur bedags te verhoog en die hitte ná sononder vry te stel. Die niere kan brak water van 1,8 persent hanteer en daar is ’n netwerk van fyn bloedvate in die sinusse wat die bloed verkoel voordat dit die brein bereik. Wanneer ’n gemsbok nie toegang tot water het nie hou dit op met sweet maar begin hyg wanneer die liggaam se temperatuur bokant 41 °C styg. Die spysverteringskanaal is aangepas om die verlies van vog te bekamp en die San-mense oes vog uit die voorkant van die spysverteringskanaal deur die inhoud te pers en deur gras te filter.

Beskrywing

Volwasse gemsbokke se skouerhoogte is sowat 1,2 m maar ’n bul weeg sowat 240 kg teenoor 210 kg in ’n koei. Die koei het dunner en langer horings as die bul en koeie se horings vorm ’n nouer V as dié van die bul. Derhalwe is die horings van ’n koei ’n beter trofee as dié van ’n bul en dit is ’n uitsondering op die algemene reël. Die skedel van ’n gemsbok is die breedste van al die Oryx-soorte; die horings is die langste en het ringe om die onderste derde. Die gemsbok het ’n ligte vaalgrys kleur wat soms ’n pienkerige tint kan hê. Daar is opvallende bruin, swart en wit bande en merke aan die lyf en gesig, ’n donkerbruin band oor die rug wat op die kruis ’n saal vorm, en ’n goed ontwikkelde keelvel. Die bruin stert het ’n lang swart kwas. Die kalwers is vaal tot rooibruin en kry die kleur van ’n volwassene wanneer hulle vier tot ses maande oud is.

Verspreiding

Gemsbokke is tot Suidelike Afrika beperk en het voorheen wyd in Namibië voorgekom, behalwe in die Caprivistrook. Hulle het wyd in Botswana se dor gebiede voorgekom maar nie in die Okavango-gebied nie en net marginaal in die weste van Zimbabwe. In Suid-Afrika het hulle histories in Namakwaland suid van die Oranjerivier voorgekom maar die grootste bevolking was noord van die Oranjerivier in die Kalahari. Hulle het ook marginaal in die Karoo, Wes-Kaap en Oos-Kaap voorgekom maar nie juis oos van die samevloeiing van die Vaal- en Oranjerivier nie. In onlangse jare is gemsbokke egter na die dorre noordelike dele van die Limpopoprovinsie versprei.

Habitat

Die beste habitat is oop grasveld en bosveld in droë gebiede. Gemsbokke kom in die Namibwoestyn se duineveld voor en verkies in die Kalahari ook die duineveld. Waar hulle na mopanieveld versprei is, verkies hulle bosveld waar die lalapalm Hyphaene coriacea, die gras Eragrostis rotifer en die skerpioendissel Monechma divercatum ook groei. Hulle verkies gebiede met minder as 250 struike per ha en kan verder as 1,5 km van water af voorkom.

Dieet

’n Gemsbok se dieet bestaan gemiddeld uit 75 persent gras, 20 persent blare en 5 persent wildevrugte. In die Kalahari word minerale lekke in kalkbanke, droë rivierbeddings en panne benut. Gemsbokke grawe vir ondergrondse bolle en knolle in die sand vir hulle vog. Die pietsnot of duikerwortel Grielum humifusum se vlesige penwortel word ook vir vog uitgegrawe terwyl die hele plant in die reëntyd daarvoor gevreet word. Wanneer water beskikbaar is, drink ’n gemsbok bedags sowat 22 liter water elke vyf dae, verkieslik uit ’n natuurlike waterpunt. Dit vreet die tsamma Citrullus lanatus se vrugte en vyf daarvan lewer genoeg water vir ’n gemsbok se daaglikse behoeftes. Wanneer weiding droog is benodig ’n gemsbok water om dit te kan verteer. Gemsbokke migreer agter weiding aan maar beweeg gewoonlik eers in ’n gebied in wanneer die gras daar redelik lank is.

Kenmerke van ’n bevolking

Die gemsbok kom in klein troppies voor maar kan soms troppe van tot 300 diere vorm, veral ná goeie reën in dor gebiede. In die droë seisoen breek groot troppe egter weer in kleiner troppies op. Teel-, bul- en kleutertroppe vorm, terwyl die groot bulle enkellopend in territoria is hoewel territoriale dispute nie dikwels voorkom nie. Die bulle hou tot en met die ouderdom van vyf jaar in bultroppe en word dan territoriaal. Hulle bly territoriaal vir net sowat drie jaar en word dan enkellopende ou bulle wat nie meer teel nie en as trofeë of vir vleis gejag kan word. In Namakwaland beset ’n territoriale bul ’n territorium van gemiddeld 7,6 km2 maar die grense is vaag. In die Kalahari is die territoria egter 26 km2 groot met streng grense wat deur mishope afgebaken word. Die loopgebied van ’n teeltrop kan tot 1 430 km2 groot wees.

Die gemsbok teel die hele jaar maar daar kan ’n hoogtepunt in Augustus en September wees. In die duineveld van die Namibwoestyn vind die meeste geboortes vanaf Mei tot Julie plaas wanneer die meeste reën val. Die kalftyd word soms gesinkroniseer. ’n Koei word geslagsryp wanneer sy 20 tot 24 maande oud is, en ’n bul wanneer hy 18 tot 24 maande oud is. Wanneer daar nie ouer bulle in ’n kudde is nie sal die bulle op ’n jong ouderdom begin teel maar anders eers wanneer hulle op vyfjarige ouderdom territoriaal word. Die enkele kalf van 9 tot 15 kg word weg van die trop gebore en die koei lek haar kalf skoon om dit teen roofdiere te beskerm. Die kalf kruip self vir die eerste drie tot vier weke weg en verskuif die lêplek met tot 3 km nadat dit elke namiddag gesoog het en soms die hele nag by die koei gebly het. Die koei het vier tepels. Ná die wegsteektydperk sluit die kalf by ’n kleutertrop aanwat saam met die teeltrop beweeg. Die kalf se horings groei vinnig met tot 30 mm in die wegsteektydperk wat drie tot vier weke duur; dit het aanleiding gegee tot die mite dat ’n gemsbokkalf met horings gebore word. Die kalf speen op ’n ouderdom van ongeveer vyf maande. Die lewensverwagting van ’n gemsbok kan tot 20 jaar wees maar talle val groter roofdiere ten prooi, dikwels al as kalwers.

Bestuur en benutting

Die gemsbok is ’n kruiper en ’n gewone wildheining moet versterk word met ’n geëlektrifiseerde draad 250 tot 300 mm bokant die grondvlak en 225 mm weg van die heining af. Gemsbokke kan saam met beeste in dor gebiede aangehou word en kan saam met die beeste van kamp tot kamp verskuif word deur ruiters op perde.

Vang, vervoer en aanhouding

Gemsbokke kan in massavangkrale gevang word maar veral die territoriale bulle is steeks om die vangkamp ver genoeg binne te gaan om gelaai te word en dit vereis spesiale kennis en toerusting om dit te doen. Vir chemiese vangs kan 4 tot 5 mg M-99 saam met 100 mg asaperoon gebruik word vir volwasse diere, met 8 tot 10 mg M-5050 as teenmiddel. As alternatief kan 7 mg A3080 saam met 20 mg asaperoon gebruik word. Kalmering op kort termyn vereis 10 tot 20 mg haloperidol maar 7 tot 8 mg perfenasien-enantaat op lang termyn. Wanneer gemsbokke vervoer word kan sewe tot agt koeie en jong diere saam in ’n massakrat vervoer word met die volwasse bulle in individuele kratte, almal onder kalmering en met pype oor die horings. Die aanbevole vloerspasie per dier is 0,90 m2 en ’n enkelkrat moet 1,9 m lank x 700 mm breed x 1,8 m hoog wees. Net ’n paar diere behoort tydelik per kamp onder kalmering en met pype oor die horings aangehou te word, maar hou aggressiewe bulle in aparte kampe.

Beladings

’n Benaderde belading is 0.56 Grootvee-eenhede per gemsbok (1.79 gemsbokke per Grootvee-eenheid), maar ’n meer verfynde belading is 1.12 Grasvreter-eenhede per gemsbok (0.89 gemsbokke per Grasvreter-eenheid) en 1.36 Blaarvreter-eenhede per gemsbok (0.74 gemsbokke per Blaarvreter-eenheid).

Vleis en lewende verkope

Die gemsbok het smaaklike vleis wat tans net in ’n beperkte mate uitgevoer word weens ’n beperkte aanbod. Die geslagte karkas lewer 55 persent van die gewig van die lewende dier, oftewel 99 tot 118 kg vleis vir ’n volwasse dier. Die gemiddelde prys op wildveilings in 2012 was R4 860 per gemsbok wat teen ’n gemiddelde gewig van 210 kg per dier in ’n bevolking ’n goedkoop R23,14 per kg is. Die rekordprys van R10 000 per gemsbok is in 2011 behaal.

Trofeejag

Rowland Ward: Minimum lengte: 40,000 duim (101,60 cm); beste: 49,500 duim (125,73 cm) en versamel deur Sarel Marais in 1985. Hierdie trofee is in die Kalahari versamel en is in Albany Museum in Grahamstad.

Safari Club International: Minimum vereiste: 88 punte; beste: 111,625 punte en versamel deur WJ Ray Junior in 1981.

Suid-Afrikaanse metode: Minimum lengte: 40,000 duim (101,60 cm); beste: 47,500 duim (120,65 cm) en versamel deur MMB van Rooyen by Aroab in Namibië.

Geselekteerde bronne – beskikbaar by die redakteur

back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.