Menu

Blinkblaar-wag-’n-bietjie

 

Ongestoorde blinkblaar-wag-'n-bietjie

Pieter van der Walt

Hoewel die bosveld se biosamestelling genoeg is om jou in bosvervoering te laat verval, is dit die struktuur wat sy boomvelde onder meer bied wat boslekkerte vervolmaak. Dié streeknaam word immers deur die houtagtige wonders getipeer en nie deur sy ryk dierelewe nie.

Wanneer die aard en samestelling van boomvelde in ons ander agt biome ontleed word, is dit veral opmerklik hoe min wydverspreide boomsoorte daar is wat uitdagende bioomgrense suksesvol oorskry.

’n Drietal bosagtige bome met enkelvoudige blaartjies verras egter met hul voorkoms in uiteenlopende groeiplekke, maar tog met ’n voorliefde vir berg- of ’n vleiagtigheid. Hierdie drietal is die olienhout Olea europaea subsp africana (W&J,Jul 2011), gewone ghwarrie Euclea undulata (W&J,Mei 2012) en die stekelrige blinkblaar-wag-’n-bietjie Ziziphus mucronata (RSA-boomnr 447; ziziphus = “zizouf” – Arabies vir lotus van oue tye; mucro = Latyns vir skerp punt; natales = geboorte) met sy menige beskrywende noemname in al wat Afrikataal is omdat dit van Afrika se noorde tot in die suide gevind word.

Die blinkblaar dien as aanwyser vir ’n vlak watertafel en sorg self vir sy water uit die dieptes. Dit kom egter verspreid in uiteenlopende groeiplekke voor en gee nie juis voorkeur aan grondsoorte nie. In die droёr binneland se oewerbosse is dit die volopste en bied waardevolle weiding. Die Vrystaters het dit selfs tot ’n beskermde boom verklaar. Hoe mooi is dit nie om dikwels ’n enkele blinkblaar in Kalaharipanne se binneste hol kol te vind nie.

Slegs in die Kaapse fynbos en in die Namibwoestyn word die blinkblaar, wag-’n-bietjie-doring of -bos, buffels- of katdoring of bokgalo (afgelei van mokhalo = Tswana en bokxalo = Sotho) (Eng: buffalo thorn or cat thorn, shiny leaf, wait a bit) nie aangetref nie. Name wat voorkoms en die vermoё om ’n slagoffer in sy spore te stuit, weerspieёl. Stamgelowe wil dit hê dat dié magiese boom se aardige gepaarde doringgeaardheid van ’n hemelwaartse langeraat, onderskraag deur ’n kort haakdoring, ’n boodskap simboliseer: Terwyl jy met ambisie en ’n strewe om te verbeter na die sterre reik, moet jy nie jou plek van herkoms vergeet of waar jou wortels voeding en vorm gegee is nie. Die van vroegtyd skerpe doringharnas sal enige wederstrewige in sy spore stuit.

Glansend groen enkelvoudige blare tipeer die bekende blinkblaar Rhamnaceae-familie (dogwood) wat so wydverspreid in warmer dele van die aardbol gevind word. Die meeste het nektarryke, skaam groenwit blommetjies wat jou heuningkliere laat water en tot bessies vir die fynproewer ontwikkel. Die kenmerkende drie hoofare vanaf die basis is so eie aan die blinkblaar-wag-’n-bietjie, so ook sy slaphangende takke.

Nog ’n bekende blinkblaar (dogwood) is Rhamnus prinoides (RSA-boomnr 452) – ’n opvallende veelstammige en immergroen bos van tot so 7 m hoog wat volop langs ons meer oostelike, humus- en bosryke rivierlope floreer. Die ovaalvormige, skerppuntige blare vertoon glansryke bokante met ’n gesonke hoofaar. Volop albastergrootte pers tot swarterige ryp bessies is van midsomer tot in die winter gewilde veldkos. ’n Worteltreksel reinig glo jou bloed en genees longontsteking. Aanplanting van die blinkblaar in statte dien as ’n toormiddel wat hutte en paleise beskerm, weerlig afweer en as gelukbringers vir jagters.

Glansend blink blare volop aan die blom

Doringmeester

Die aard en rangskikking van die 40 akasia- of doringboomsoorte in ons land se doringarsenale dien as ’n eenvoudige manier om hulle in vyf uitkenbare groepe te orden , of aan menige ’n toepaslike volksnaam toe te dig. Dit is dus te wagte dat die wag-’n-bietjies se doringvoorkoms in hierdie opsig voorrang bo hul ook so bekende vrugplesier en blaarbearing geniet.

Wat sekerlik hiertoe bygedra het, was ons blinkblaar-wag-’n-bietjie se verwantskap met die ook immergroen en ewe groot Hebreeuse Christusdoring (Arabies = sidr) Z. spina-christi.Steeds onbevestigde bewerings doen al lank die rondte dat Christus se doringkroon van die blinkblaar se takke gevleg was. “... die soldate het ’n kroon van dorings gevleg en dit op sy hoof gesit ... Koning van die Jode ...” (Joh 19:2). Hierdie vereenselwiging is al Christelike tradisie, ook omdat die boom met sy ovaalvormige kroon verspreid op die berg Moria voorkom. Christene het juis dorings as simbole van die effek van sonde gesien (Gen 3:18, Num 33:55, Spr 22:5, Matt 7:16 en Heb 6:8). Daar is ook sprake dat die kroon van die palm Phoenix dactylifera se volop skerp “speke” gemaak was.

Die blinkblaar se gewilde blaarvoer is nie net van groot waarde vir al wat boksoort is, veral in die droёr dele nie. Opgekookte, jong blare maak ’n voedsame spinasie om tammes weer lewe te gee. Sy volop bessie-aanbod is vir baie soorte saadvreters ook ’n genot. Die ryp rooibruin, glansende, albastergrootte vrugte is vanaf Februarie tot vroeglente beskikbaar. Die dunnerige, voedsame, soet moes is te melerig vir lekkerte maar dien as vername oorleefkos. Dit word gedroog tot ’n meel waarvan pap en ’n dorslessende drankie gemaak word. Ons Boerekrygers het van die geroosterde, fyngemaalde sade ’n soort koffie gemaak.

Parasitiese voёlentsoorte het ’n besondere voorliefde vir die blinkblaar as ’n gasheer wat daarop dui dat dié boom, nes die akasias, ’n hoё stikstofvlak handhaaf. Erge droogtes en koueskade wat boomoorlewing onder druk plaas, help vroeё besmettings aan; ’n gesogte voedselbron wat beweiding van die blinkblaar vererger.

Die blinkblaar se vele medisinale opsies word wyd gerespekteer. Gebakte wortels word verpoeier en dan gedrink of as ’n pasta aangewend om pyn te verlig. Sommige stamgenote eet dan die pasta as versekering teen verdere pyn. ’n Blaarpasta ontpit weer ’n pitsweer, kalmeer absesse, swellings, tuberkulose, masels, skarlakenkoors en ’n hygbors. Koue bas- of blaartreksel verlig griep, brongitis, geswolle kliere en spierpyne. Die kou van jong wortels stil ’n loopmaag gou voor ’n broekparade.

Die relatief harde, onduursame fyngreinhout trek erg skeef wat dit ongeskik maak as timmerhout hoewel die dik bruin pithout en smal geelbruin spinthout tog mooie ornamente en eetgerei draai. Buigsame wildelote maak bruikbare boё en sweepstokke.

Vele vars takkies onder ’n boom getuig van besmetting deur die langhoringboktor (Cerambycidae). Vroulike torre lê eiers in gate wat sy boor, waarna sy die takkies ringeleer (ringbark) om te verseker dat hulle droog is wanneer die larwes ontpop. Hierdie larwes is ’n lekkerny vir die mens, nagapies en kloppende spegte.

As jy dus weer ’n ongenadige steek kry en dan boonop stekelrig omarm word, neem maar kennis van dié uitnemende sieraad van ons boomvelde as eksponent van bruikbaarheid, aanpassing en opportunisme.

Hierdie artikel is verkort – lees die volledige weergawe in die April-uitgawe van WILD & JAG.

Volgende keer: Wag-’n-bietjie-doring

Dr Pieter van der Walt, tel: 012 329 0037 peetvdw14.gmail.com

back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.