Menu

Kalibers en Keuses - Die .220 Swift en .22-250 Remington

 

Foto: Die .22-250 patroon (links) en die .220 Swift (regs) aan weerskante van die "moeder"-patroon, die .250-3000 Savage, waaruit albei ontwikkel het.

 

Deur Skietstok

 

.22 Senterslag-kalibers (3)

 

Die .220 Swift en .22-250 Remington

 

Die geskiedenis van hierdie twee rondtes het so baie in gemeen dat hulle amper as “bloedverwante” beskou kan word.

 

Die .220 Swift

Hierdie rondte is ontwikkel deur Winchester en is in gebruik geneem in 1935 as ’n nuwe kaliber vir hul Mod 54-grendelaksiegeweer. Met die eerste ingebruikneming van die tans beroemde Mod 70-Winchester in 1936, was die .220 Swift een van die standaardkalibers wat aangebied is. Dié model het in 1964 tot ’n einde gekom, waarna die Belgiese FN Mauser-grendelaksie beskikbaar was vir die .220 Swift. Die Ruger Mod 77, Sako en Savage Mod 112-V-grendelaksiegewere is daarna ook vir hierdie kaliber gekamer.

 

Historiese notas

Die prototipe vir die .220 Swift is gedurende 1934/35 ontwikkel, grotendeels deur Grosvenor Wotkyns, wat die .250-3000 Savage afgenek het om sodoende baie hoë koeëlsnelhede te produseer. Die finale kommersiële weergawe wat deur Winchester ontwikkel is, is op die ou 6mm Lee Navy-patroon geskoei. Dis ’n semigerande dop, nes die .225 Win wat die .220 Swift in die Winchester-reeks vervang het, en dit het ’n ietwat groter volume as die .250-3000 Savage. Winchester het die nekdeursnee na .224 verminder, en het die dop wat 2.205 duim lank is, ’n skouer van 21 grade gegee. Die .220 Swift was die eerste patroon om die magiese grens van 4 000 voet per sekonde (vps) te breek.

 

Algemeen

Die geskiktheid van dié kaliber om 40 en 55 gr-koeëls respektiewelik teen 4 110 vps en 3 800 vps te lanseer, het onmiddellik die probleemdierskuts in Amerika se aandag getrek. Hoewel die Swift se plat trajek en uitsonderlike akkuraatheid met spesifieke ladings dit uiters gewild gemaak het, was dié patroon uiters wispelturig met klein komponentveranderings, en keel-erosie wanneer lang sarsies geskiet word, was opvallend. Swift-entoesiaste het tog hul plat skieters gekoester, maar toe Remington in 1950 en 1957 onderskeidelik die .222 en .223 bekendgestel het, het voornemende plaagdierskuts hul Swifts daarmee begin vervang. Genoemde kleiner .22’s was goedkoper om te skiet, het ’n sagter knal gehad, die skop was aansienlik minder, die looplewe was langer en die doppe het langer gehou. Met die aanneming van die .223 as Amerika (en later ook Suid-Afrika ) se amptelike militêre rondte, is nog verdere druk op die propagering van die .220 Swift geplaas, wat amper tot sy ondergang gelei het. Toe die .22-250 Remington in 1965 bekendgestel is, was dit ’n verdere terugslag vir die Swift. Met laasgenoemde se korter, dikker dop is die .22-250 in terme van snelheid gegenereer per grein dryfmiddel, meer effektief as die Swift. Die .22-250 is in die algemeen ook meer akkuraat met minder wispelturigheid wat betref herlaaiwerk, terwyl daar vir alle praktiese doeleindes feitlik identiese ballistiese resultate verkry word.

 

Ten spyte van afskeping van die Swift deur bekende geweer- en ammunisievervaardigers, het die Swift oorleef en selfs oor die afgelope drie dekades ’n merkwaardige herlewing ervaar. Daar is tans baie van die bekende geweervervaardigers wat gewere in die .220 Swift-kaliber aanbied, terwyl daar ook meer fabrieksladings vir dié kaliber beskikbaar is as ooit tevore. Die herlewing kan moontlik toegeskryf word aan die verbeterde gehalte van die loopstaal sedert die Tweede Wêreldoorlog wat keel-erosie van die loop feitlik uitgeskakel het, sowel as die ontwikkeling van meer geskikte dryfmiddels vir die relatief groot dop van die Swift. Sy effense hoër koeëlsnelheid speel ook ’n rol. Volgens Amerikaanse herlaaiboeke is die Swift ongeveer 200–300 vps vinniger as die .22-250 Remington, veral met die swaarder 55 gr- en 60 gr-koeëls.

 

Suid-Afrikaanse S335 en S365 werk goed vir die Swift, met maksimum ladings wat die 55 gr-koeël teen 3 500 vps met ’n 25-duim-loop lanseer.

 

Die Swift met premium koeëls soos die 50 gr-Barnes X, 60 gr-Nosler Partition of 55 gr-Claw kan met goeie skootplasing baie effektief tydens windstil dae op wild in die springbok- of rooibokklas aangewend word. Op afstande onder 200 m sal die hoë koeëlsnelheid egter groot vleisskade by bladskote tot gevolg hê. Wild soos steenbokke of duikers, wat gewoonlik op afstande onder 100 m gejag word, moet liefs nie met dié kaliber gejag word nie, tensy akkurate kop- of nekskote geskiet kan word. As gevolg van die skop en ammunisiekoste is skuts van wildoesspanne nie te lief vir die Swift nie. Vir jakkals- of rooikatjagters, wat nie so baie skote skiet nie, tel die “ekstra voete” egter nogal punte.

 

Die .22-250 Remington

Hierdie rondte het sy oorsprong as ’n sogenaamde wildcat gehad en as gevolg van sy gewildheid het Remington dit in 1965 kommersieel begin aanbied.

 

Historiese notas

Nes in die geval van die Swift, is dit geskoei op die .250-3000 Savage-dop wat tot .224-kaliber afgenek is. Die presiese datum van oorsprong is onseker, maar die voorgangerpatroon is in 1915 bekendgestel, waarna ’n .22-weergawe vermoedelik eksperimenteel vervaardig is. Tussen 1934 en 1937 het Harvey Donaldson, Grosvenor Wotkyns, JE Gabby en JB Smith aan verskeie weergawes van die .22-250 gewerk. Laasgenoemde twee persone word in die algemeen gekrediteer met ontwikkeling van die huidige gestandaardiseerde konfigurasie wat in 1937 tot stand gekom het.

 

Daar was egter verskillende weergawes van die rondte. Die Gabby-weergawe is die .22 Varminter genoem, waarvoor hy kopiereg verkry het. Ander geweersmede het dit die .22-250 genoem (die .250-gedeelte afkomstig van die .250-3000-voorsaat). Die Wotkyns-weergawe was die voorganger van die .220 Swift, hoewel Winchester uiteindelik die 6mm Lee Navy dop-verkies het bo dié van die .250 Savage. Toe Remington dit as ’n fabriekslading in 1965 bekendgestel het, het hulle die benaming behou. Browning het egter die Remington met twee jaar voorgespring en die kaliber reeds in 1963 aangebied. Die meeste bekende vervaardigers bied tans gewere in hierdie kaliber aan.

 

Algemeen

Nes in die geval van die .220 Swift, is die .22-250 ontwerp as ’n langafstand-probleemdierrondte. Die kombinasie van sy ongelooflike snelheid met ’n klein, doelbewuste bros koeël is ontwerp sodat die koeël moet “opblaas” of fragmenteer by impak met klein liggaamteikens om sodoende opslagkoeëls of koeëls wat deur die teikendier se liggaam penetreer, te verhoed. Dit verhoed ook dat diertjies soos groundhogs (’n dassiegrootte Amerikaanse probleemdiertjie) nie gekwes in hul gate in ontsnap nie. Die .22-250 is al vir dekades die gewildste probleemdierrondte in Amerika. As gevolg van die besonderse akkuraatheid in fyn ingestelde gewere is dié kaliber ook gewild tydens skiettafelkompetisies.

 

Die kombinasie van die .22-250, of soos party jagters dit noem, die “trippel-twee vyftig” se plat trajek, hoë akkuraatheidspotensiaal, hoë dryfmiddeldoeltreffendheid, kort dryfmiddelkolom, lae skop en langer loop- en doplewe, maak van dié kaliber die beste .22-senterslag-probleemdierkaliber van alle tye.

 

Die .22-250 is dodelik vir die skiet van dassies, jakkalse en kraaie op ’n lang afstand. Nes in die geval van die .220 Swift kan dit deur verantwoordelike jagters vir die jag van springbokgrootte wild aangewend word. Baie skuts gebruik dit vir wildoeswerk, hoewel dit in hierdie dissipline deur die .223 Rem oorskadu word.

 

Dis maklik om die .22-250-rondte te herlaai met koeëlgewigte van tussen 40 en 70 grein. Die gewildste lading is egter die 55-grein, wat ook die enigste gewig is waarin PMP dit vervaardig.

 

Langafstand-probleemdierskuts is klaarblyklik nooit heeltemal tevrede met ’n goeie kaliber nie, en verdere eksperimentering het gelei tot die ontwikkeling van ’n wildcat gebaseer op die .22-250, waarvan die dop-afspitsing (taper) verwyder is en die skouer uitgeblaas is tot ’n skerper hoek. Dit is genoem die .22-250 Ackley Improved. Die dopvolume hiervan is feitlik dieselfde as dié van die .220 Swift en soortgelyke ballistiek word verkry.

More in this category: « Blinkblaar-wag-’n-bietjie
back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.