Menu

Wag- ’n-bietjie-doring


Pieter van der Walt

Die wag-’n-bietjie-doring, gewone haakdoring, katdoring, amaquasdoring (common hookthorn, wait-a-bit thorn, mothôlô – N Sotho, umTholo – Zoeloe, umNyamanzi – Xhosa) Acacia caffra (RSA-boomnr 102), se swaardragname met darem die haakdoring as gemene deler, getuig van sy bekendheid langs ’n insgelyke haakverspreidingspatroon in ons land. Sy vorig bekende donker voorvoegsel moes soos by vele ander plantsoorte ook maar vir politiese korrektheid plek maak want hy haak seker immers almal wat wil.

Vele plantsoorte van boom, struik en ranker se haakdoringharnasse as relatief effektiewe verdediging teen mens en dier, was al van vroegtyd een van talle hindernisse in die noordwaartse trekke vanuit die kolonie. Lichtenstein (1803) het in sy stryd om ’n pad deur die Suid- en Oos-Kaap se struikgewas te kap, sommer plante wat haak, wag- ’n-bietjies of katdorings genoem. Veral Asparagus- (katbos), Capparis- (naaldebos), Ziziphus- (blinkblaar), Acacia- (doringboom), Erythrina- (tambukidoring) en Scutia-soorte is so benaam.

Die wag-’n-bietjie-doring se besondere voorkoms in die omgewing van die Gamtoosrivier het die reisigers Beutler (1752) en Plettenberg (1778) genoop om dit die “amaquasdoornboom” te noem; die toentertydse Hottentot-variant van AbaTwa, die Xhosa-naam vir die Boesmans (vandag se San). Dit in ’n poging om A. caffra van die ander toe bekende, dominante doringboom in die suide, naamlik A. karroo (soetdoring), te onderskei. Dit was ’n soort van begin van die klassifikasie van ons land se 40 miljoen ha-bosveld se vandag bekende 40 akasiaspesies, subspesies en variёteite. Beutler beskryf die wag-’n-bietjie-doring meer in die besonder as met ’n “tweederley soorten van takken en bladeren op een stam” – die eerste bekende vermelding van ’n voёlentsoort (vuurhoutjies Loranthus sp.) op ’n gasheerplant.

Die Acacia-geslag is die grootste in die subfamilie Mimosoideae en die tweede grootste in die familie Leguminosae (= Fabaceae) – ’n komplekse pantropiese en omvangryke geslag met sowat 1 250 spesies, waarvan net sowat 135 in Afrika voorkom. Die ryke doringboomarsenaal spreek veral van ’n eie kenmerkaansig wat meesal met groeivorm te make het. Hulle ken droogte, windstorms, vloede, oorbeweiding en die onversadigbare houtlus van die mens.

Synde dus baie geharde boomsoorte met dig gegreinde, duursame hardehout, is die veelvoudige gebruiksvoorskrifte vir doringbome in die Bybel nie onverwags nie. Acacia = shittáh in Hebreeus en sant = Arabies is ou name sedert die vroegste tye. In Eks 25 en 26 word voorgeskryf hoe akasiahout gebruik moet word vir die maak van die ark van die tabernakel, sy planke, pilare, tafels en vergulde houtsporte.

Twee van ons bekendste akasiasoorte kom algemeen in die Midde-Ooste voor, naamlik die haak-en-steek A. tortilis (W&J, Apr. 2009) en die kleine lekkerruikpeul (scented-pod thorn) A. nilotica (RSA-boomnr 179). Hulle is vername bydraers tot die steeds ryk gombedryf deurdat hulle gum arabic produseer – ’n antieke handelsartikel wat nog as ’n byvoeging tot kos gebruik word, asook vir die maak van ink, verf, gom, kosmetiese ware, parfuum en medisyne.

Die aard en rangskikking van ons land se 40 doringboomsoorte se doringvoorkoms is ’n eenvoudige manier om hulle net in vyf groepe te orden. Dié met pare reguit steekdorings maak die helfte daarvan uit terwyl slegs ’n viertal haak-en-steek-dorings het (’n kombinasie van reguit en krom dorings). Dié waarvan die takraam met slegs pare haakdorinkies spog, maak ’n kwart van die totaal uit; dus ’n dubbele versekering om ’n greep op ’n gehaakte te behou.

Doringbome het oor lange eeue ’n simbiotiese verhouding met herbivore ontwikkel, waarin takvoer in ruil vir saadverspreiding ’n rol gespeel het. Dorings was dan ’n bate deurdat dit saailinge, jonggroei, blomme en groen peule teen beweiding beskerm het. Dit kan en het dikwels ’n tydige, voedsame saad- en peulbron in verarmde plantstande verseker.

Suurveldversiering

Hetsy alleenstaande of deel van ’n reeks, en of dit reik van dor tot sneeubedekte hoogtes, ’n berg bied maar net daardie allernodige bekoring en toevlug. Ons Laeveld-bosveld se soet- en dorheid gaan met die toename in hoogte oor na ’n suur en gemengde bosveld, elk met ’n bosaard van sy eie; ’n plantpatroon-mosaїek waarbinne ’n erkende 87 bosveldsoorte floreer.

Die wag- ’n-bietjie-doring en sy meeloper, die enkeldoring (robust thorn) A. robusta (RSA-boomnr 183) is volop suurridders van ons bergbosse, veral in die noordweste se golwende bulte en berguitstulpings soos die Water- en Soutpansberg, die oorgangsbosse van die rollende heuwelmassas in die platorandkom en Magaliesberg en langs die ooskus se struikgewasse tot so by Port Elizabeth.

Die bergveld met sy relatiewe hoё reenval van ongeveer 650–1 200 mm / jaar voeg onmeetlike rykdom tot ons reeds bultende bioskatkis by. Dit te midde van onvrugbare, uitgeloogde en sanderig tot gruisagtige leemgronde en grasse wat hul voedingswaarde grootliks in die winter prysgee en dus vir die boer ’n weidingtekort beteken.

Die suurbosveld word basies deur twee groeiplekke oorheers, naamlik diep voorskootsandgronde en klipperige ranteveld wat maklik van mekaar onderskei kan word. Hulle is maklik “leesbare” gronde deur bloot hulle plantsoorte te eien. Dan besef jy dat bogrond nie alleen lewe is nie, maar dat tekstuur en struktuur asook suurgehalte van grondsoorte onder hul besetters sif. Indien té suur of té alkalies kan die nodige mineraalelemente nie opgeneem word nie.

Hoewel die wag-’n-bietjie-doring asook die enkeldoring in diep leemgrond in hoogte gedy, doen hulle ons doringbome se aanpasbaarheid gestand deur tot in krakend harde turfgrond te oorleef; daar waar menige ander boomwortel vrek weens afsnyding, te min belugting en die erge waterhouding.

Die tot 18 m hoё, karaktervolle, bladwisselende wag-’n-bietjie-doring met sy kenmerkende spreiende kroon, hangend, dubbelveervormige saamgestelde blare en growwe oubas, is een van ons groot vyf doringboomsoorte. Saam met die wag-’n-bietjie-doring versier ook die geel en swart apiesdorings (W&J, Nov 2011) die suurbosveld, terwyl die knoppiesdoring (W&J, Mei 2009) en kameeldoring (W&J, Mrt 2006) volop in dorre laevelde is – almal met pare onderstebo haakdorings wat prag bonsaitjies meebring.

Die rypbestande wag-’n-bietjie-doring is al vroeglente vol in die blom met sy geelroom en lange blomare, waarna dit die grond tot so Oktober met oublom besaai. Plat, byna reguit rooibruin peule met elk so ses saadjies hang dan vanaf middelsomer in trosse tot die herfstyd. Slegs jong blare en peultjies is voorkeurweiding vir menige blaarvreter. Dié termietbestande hardehout maak handige trekpale en braaikole.

Die tot 20 m hoё, immergroen, enkel-, rivier- of brakdoring met sy opvallende yl donkergroen kroon met meer regop dratakke, is meer suurbosveldverwant waar dit in enkelstande voorkom. Langs die meer oostelike Suider-Afrikaanse oewerbosse kom dit as skaars enkellinge voor. Sy noemnaam het dus niks te make met sy doringvoorkoms nie, wat korterig, dubbeld en reguit is. Sy dubbelveervormige, saamgestelde blaartjies asook roomwit, bolvormige blomhofies is kenmerkend op kussinkies saamgebondel. Dit blom vroeg reeds, van middelwinter tot lentetyd, waarna die sekelvormige, plat, houtagtige peule ook saambondel om laatsomer aan die boom oop te spring om ongeveer sewe rooibruin saadjies vry te stel. Dit is ’n mooi sierboom met beperkte gebruik veldgewys.

Hierdie is dus nog ’n aantal doringsoorte wat die karaktervolheid van die klassieke Afrika-boomprofiele benadruk – sierade wat ’n bosveldbelewenis net verryk en wie se bestaan, hetsy in veld- of dorpsverband, vertroetel moet word.

Hierdie artikel is verkort – lees die volledige artikel in die Mei-uitgawe van WILD & JAG.

Volgende keer: Groendorings

Dr Pieter van der Walt, tel (012) 329 0037, e-pos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

More in this category: May 2013 - Kommentaar »
back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.