Menu

KALIBERS EN KEUSES Deel 4

 

001 - .243 Win (links) langs die .308 Win, waaruit dit ontstaan het.

 

Daai 6mm ‘springbok-kalibers’

 

Deur Skietstok

 

Hoewel die 6mm PPC-USA, 6mm STW en 6mm XC almal baie doeltreffend op springbokgrootte wild aangewend kan word, is hierdie kalibers nie vryelik op die mark beskikbaar nie, en kan die verkryging van ammunisie en herlaaikomponente (veral doppe) problematies wees. Hulle word dus nie verder hier bespreek nie.

 

6mm Remington

Hierdie patroon is ontwikkel as ’n sogenaamde wildcat deur Fred Huntington van RCBS. Dis bloot ’n .257 Roberts-dop wat na .243” of 6 mm afgenek is, en is aanvanklik die .244 Rockchucker genoem.

 

In 1955 het dit op die lappe gekom dat Winchester ’n nuwe patroon geskoei op die .308 Winchester-dop gaan bekendstel, en aangesien kompetisie straf was, het Remington inderhaas die .244 Rockchucker aangeneem om sodoende nie deur Winchester die loef afgesteek te word nie. Die twee rondtes is feitlik tegelykertyd bekendgestel en Remington het hulle naam in die proses bygevoeg – aldus die .244 Remington. Dit was bedoel as ’n probleemdierrondte wat liggewig 75, 80 en 90 gr-koeëls sou hê, en daarom is ’n 1-in-12”-groefdraai gebruik. Dit was ’n oordeelsfout en ongelukkig kon daardie spesifikasie nie die swaarder 100 en 105 gr-koeëls, wat deur hert- of takbokjagters verkies word, stabiliseer nie.

 

Die .243 Win is egter as ’n dubbeldoelrondte vir probleemdiere sowel as whitetail deer bedoel, en Winchester het ’n 1-in-10”-groefdraai gebruik. Met 100 gr-koeëls was dit baie effektief op gewilde Amerikaanse grootwild soos die whitetail, terwyl dit met die ligter koeëls steeds akkuraat genoeg was vir probleemdieraanwending. Die .244 Remington het gefaal weens sy kleiner veelsydigheid, sowel as die kwaliteit van geweer waarin dit in daardie kaliber aangebied was. Die voor-’64- (pre-’64) Winchester het die Remington Model 722-grendelaksiegeweer in feitlik alle opsigte oorskadu.

 

Remington het gevolglik die .244 onttrek en dit in 1963 weer bekendgestel as die 6mm Remington, dié keer met ’n 1-in-9”-groefdraai en wel in hul nuwe Model 700-gewere. Fabrieksammunisie is beskikbaar gestel in 80, 90 en 100 gr-koeëls. Hoewel hierdie klein veranderinge die veelsydigheid van die rondte op feitlik dieselfde vlak as dié van die .243 Win gebring het, kon dit nooit die gewildheid van die .243 Win bereik nie.

 

Hoewel die 6mm Remington ’n ietwat groter (4%) dopvolume as die .243 Win het, wat dit dalk 50–100 voet per sekonde (vps) vinniger as die .243 vir handlaaiers kan maak, is daar net ’n beperkte aantal vervaardigers wat dié kaliber aanbied. In Suid-Afrika is fabrieksammunisie daarvoor skaars en doppe nog skaarser, wat die oorgrote meerderheid jagters wat ’n kaliber in daardie klas soek, op die .243 Win laat besluit.

 


Download 19 February 012012 - 6mm Musgrave (regs) langs die .303 British waaruit dit ontstaan het.

 

Die 6mm Rem is geskik vir dieselfde wildsoorte as die .243 Win.

 

6mm Musgrave

Was dit nie vir die wye beskikbaarheid van derduisende militêre Lee Enfields in .303 British-kaliber nie, sou die 6mm Musgrave waarskynlik nooit die lig gesien het nie. Dié rondte is bloot ’n .303 British-dop afgenek tot 6 mm. Hoewel dit in feitlik identiese formaat eers in Kanada en later in Australië verskyn het (waarskynlik vir dieselfde rede), was Musgrave van Suid-Afrika die eerste fabrikant wat dit as fabrieksrondte in 1969 bekendgestel het. ’n Hele paar duisend .303-gewere is destyds by die Musgrave-fabriek buite Bloemfontein omgeskakel na 6mm Musgrave, en is terselfdertyd tot “sportmodelle” (sporterised) gemaak, wat die toevoeging van ’n teleskoop vir aanwending oor langer afstande as in die geval van die .303 British, wat ’n bosveldkaliber is, genoop het. Dit was egter makliker om Amerikaanse of Europese jaggewere in te voer, wat makliker met teleskope toegerus kon word.

 

Fabrieksammunisie is aangebied in 80 en 100 gr-koeëls, onderskeidelik teen 3 000 en 2 800 vps, wat die 6mm Musgrave baie effektief gemaak het op springbokgrootte vlakte- of bergwild. Beskikbare ammunisiehoeveelhede was egter baie minder as dié vir die .243 Win. Verder was die Lee Enfield-aksie veeragtig (springy), wat nie net fyn akkuraatheid kan benadeel nie, maar ook by die gebruik van handgelaaide ammunisie die doplewe aansienlik verminder. Die .243 Win het dus nooit in gewildheid getaan nie.

 

Hoewel die 6mm Musgrave ’n effens groter dopvolume as die .243 Win het, is laasgenoemde tot ’n druk van 52 000 CUP gelaai, teenoor 45 000 CUP vir die Musgrave. Dit het tot gevolg dat die .243 Win altyd vinniger as die Musgrave sal wees, tensy ’n Mauser-tipe aksie (bv die P14 Enfield) in die 6mm Musgrave gebruik sou word. Dit sal ook die gebrek aan akkuraatheid en dopleweprobleem uitskakel.

 

Hoewel dit net so effektief is op dieselfde wildsoorte as waarvoor die 6mm Remington of .243 Win aangewend word, het die 6mm Musgrave nog nooit die rakverkope van die .243 bedreig nie. Tensy jy ’n Lee Enfield het wat jy vanweë nostalgiese redes wil behou en vir vlaktewild gebruik, is die .243 Win beslis ’n beter keuse as gevolg van ballistiek, herlaaibaarheid, beskikbaarheid van ammunisie, herlaaikomponente en waarskynlik ook estetika. As jy egter reeds een het, kan dit net so goed as die .243 Win onder normale jagtoestande aangewend word.

 

 


Download 19 February 013013 - Die .243 Win (links) langs die effens langer 6mm Musgrave.

 

.243 Winchester

Hierdie patroon is ’n wêreldwye gunsteling in sy ballistiese klas, wat weerspieël word in ammunisieverkopevolumes, waar dit net ná dié van die .30-06, .308 of .270 kom. In die Karoo is die .243 Win feitlik sinoniem met springbokskiet, al is dit nie ideaal daarvoor onder alle omstandighede nie.

 

Dis ontwikkel deur die .308 Winchester-dop af te nek na .243 (of 6 mm); dié kort dop werk ideaal in ligte kort-aksie-sportgewere. Dis in 1955 in gebruik geneem vir die Winchester Model 70-grendelaksiegewere en Model 88-hefboomaksiegewere ná aanvanklike ontwikkeling deur Warren Page. Soos hierbo genoem, was dit ’n dubbeldoelpatroon wat baie gou in gewildheid toegeneem het.

 

Elemente van kritiek sluit in dat dit té kragtig is, dat die skop te hard is vir wildoeswerk waar vinnige sarsies dikwels benodig word, dat dit ’n vleisbederwer is met lyfskote by kleinwild op kort en medium afstande, dat dit lope te vinnig kan erodeer, dat dit windsensitief vir langafstandskiet met die beskikbare koeëlgewigte is en oor die algemeen nie geskik is vir enigiets groter as springbokgrootte wild nie. Verder is die .243 Win nie een van die maklikste kalibers vir die herlaaier om besonderse akkuraatheid te verkry nie. Baie herlaaiers ondervind die vorming van doughnuts (’n verdikking aan die basis van die nek) ná dophervorming, veral met sekere fabrikate, wat herlaaiwerk kan bemoeilik.

 

Dis ’n ideale rondte vir wild soos springbokke / rooiribbokke tot en met blesbokke / rietbokke oor langer afstande, mits ’n sterkerige dwarswind nie ’n faktor is nie. Laasgenoemde is ongelukkig dikwels ’n kenmerk van vlaktegebiede, veral tydens jagtyd in die winter. Die .243 Win is egter met 100 gr-koeëls baie beter as enige koeël gevuur uit enige van die .22 senterslag-kalibers. Met koeëls van hoogstaande gehalte en versigtige skootplasing kan dié kaliber onder ideale omstandighede tot op hartbeesgrootte wild aangewend word. Dis egter nie normaalweg geskik vir bosveldjag, waar skote onder 150 m meesal die norm is nie, veral as konvensionele koeëls gebruik word. Herlaaiers het egter die voordeel dat dié rondte met veiligheid laer gelaai kan word (100 gr-koeëls tot ± 2 400 vps met 28–29 gr-S335), wat dan wel vir bosveldjag op rooibokke / bosbokke gebruik kan word.

 

Die .243 Win is die ideale kaliber vir beginners en vroue met ’n klein postuur aangesien die skop heel hanteerbaar is. Dis akkuraat genoeg vir gewone jagdoeleindes en skiettafelskuts by die PMP-groeperingskietkompetisies vaar baie goed daarmee. Willem Botha van die Skietwinkel in Bloemfontein het ook al baie jaggeweerskietkompetisies met sy standaard .243 Win teen sogenaamde “spesialis”-kalibers (vir daardie skietdissipline) gewen. Ammunisie en herlaaikomponente is wyd beskikbaar. Die .243 Win sal nog vir baie lank een van die heel gewildste kalibers bly.

back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.