Menu

Oor kalibers en keuses Deel 9

 

Foto 014 - Die drie .257 kalibers bymekaar – van links: .257 Roberts, 25-06 en .257 Weatherby Magnum.


KALIBERS & KEUSES April 02 014Die .257-kalibers

.257 Roberts

Roberts, die bekende Amerikaanse wapenskrywer, was die vader van hierdie patroon, waarna dikwels verwys is as “die mees bruikbare patroon ooit”. Gedurende die 1920’s het hy met die 7 x 57-dop geëksperimenteer, wat hy afgenek het om koeëls met ’n .257-deursnee te akkommodeer. Hy het ’n vollengtedop gebruik, die skouer na 15 grade verander en dit die .25 Roberts genoem. Dit het so gewild geraak dat fabrikante soos Niedner, Sedgley en ander, gewere daarvoor gebou het. Remington het in 1934 die skouerhoek tot 20 grade verhoog en begin om dié nuwe patroon, wat hulle die .257 Remington Roberts genoem het, te akkommodeer in hul Model 305-grendelaksiegewere. Winchester het nie op hulle laat wag nie en dit in hul Model 54 en later in die Model 70 aangebied. Dit het daartoe gelei dat hierdie patroon in die skietwêreld die .257 Roberts genoem is.

Remington het hul gewere ontwerp vir ’n druk van 45 000 cup (Copper Units of Pressure / Kopereenhede van Druk [KD]) en om dit as ’n dubbeldoelpatroon te vestig vir probleemdiere sowel as wild, is dié patroon aangebied met 87, 100 en 117 gr-koeëls teen respektiewelike snelhede van 3 200, 2 900 en 2 650 voet per sekonde (vps). Rondeneuskoeëls is gebruik en daarom is die vryboor (leade) baie kort gesny om kort, ligte probleemdierkoeëls toe te laat om naby aan die groewe / lande geplaas te word. Dit het die patroonlengte tot 2.775" beperk.

Ten spyte van hierdie beperkings was die .257 Roberts baie gewild totdat Winchester die .243, en Remington die 6mm bekendgestel het. Hierdie dubbeldoelkalibers het amper tot die ondergang van die .257 Roberts gelei. Tans is daar net drie vervaardigers (Browning, Ruger en Dakota) wat gewere in dié kaliber aanbied.

Ammunisievervaardigers het besef dat die .257 Roberts “warmer” ladings benodig om tot sy reg te kom, en met die vooruitgang in die ontwikkeling van dryfmiddels kon hulle sogenaamde +P-ladings ontwikkel. Federal se 120 gr-Nosler Partition gee 2 780 vps, Winchester se 117 +P-lading gee dieselfde spoed en Hornady se Light Magnum, met dieselfde koeëlgewig, gee 2 940 vps.

As gevolg van die gewildheid van die .25-06 is standaardkoeëls en koeëls van prima gehalte in dié kaliber algemeen beskikbaar vir die herlaaier. Dis ook nie moeilik vir ’n ervare geweersmid om die keel uit te ruim of langer te maak nie. ’n Langer keel laat die herlaaier toe om die koeëls verder uit die dop te kan vestig (seat), wat ’n groter dryfmiddelkapasiteit tot gevolg het. Die 7 x 57-doppe kan afgenek word om Roberts-doppe te vorm deur hulle net een maal deur die .257 Roberts-hervormingmatrys te druk. S365 is blykbaar die beste plaaslike dryfmiddel vir hierdie patroon.

Vir plaaslike wild in die blesbok- of rietbokklas is dié patroon met koeëls van 115 of 120 gr teen ongeveer 2 750 vps baie effektief tot op afstande van tot 250 m. Die koeëlval van ’n 120 gr-koeël op 250 m (teleskoop gezero op 200 m) is slegs 3.2". Vir bosveldgebruik op rooibokke of bosbokke kan die snelheid afgelaai word na 2 400 vps. Met die ligter koeëls (75 tot 87 gr) teen ongeveer 3 000 vps, kan dié patroon effektief vir probleemdiere soos jakkalse of rooikatte wees, solank die afstand tot onder 150 m beperk word. Die seksionele digtheid van die korter koeëls het vinniger snelheidsverlies tot gevolg. Die skop is ook ietwat te skerp om dit ’n goeie probleemdierpatroon te maak.

Met die swaarder koeëls is dit beter as die .243 vir klein vlakte- en bergwild, veral wat winddrif betref. Plaaslike jagters verkies egter die warmer .25-06.

.257 Weatherby Magnum

Roy Weatherby het dié patroon in 1944 ontwikkel. Dis gebaseer op ’n afgenekte, uitgeblaasde .300 H&H-dop. Ten einde dié patroon toe te laat om in gewere met standaardlengte-aksies te funksioneer, is die dop verkort tot 2.54". Hoewel daar ’n aantal wildcat-weergawes van die .300 H&H is wat tot .25-kaliber afgenek is, was die Weatherby in die VSA die gewildste hiervan, veral as gevolg van die beskikbaarheid van fabrieksammunisie en doppe. Kommersiële ammunisie onder die Weatherby-naam was beskikbaar sedert 1948, en sedert 1951 is dit saamgestel uit Norma-komponente.

Aanvanklik was dit een van die vinnigste kalibers ooit, met ’n 87 gr-projektiel wat tot 3 800 vps gevuur kon word. Dit het ’n reputasie ontwikkel dat dit selfs op grashalms kan opbreek, wat daartoe gelei het dat die .257 Weatherby Magnum sinoniem begin word het met koeëlmislukking. Jagters het dit asook ander Weatherby-kalibers begin vermy en beroepsjagters het begin weier om kliënte wat Weatherby’s gebruik, te vergesel.

Die ligter koeëls verloor te vinnig snelheid op afstande verder as 150 m weens die lae seksionele digtheid. Die .257 Weatherby Magnum is ’n langafstandpatroon vir vlakte- en bergwild en kom tot sy reg met die swaarder (120 gr-) koeëls. Met 120 gr-koeëls is ’n topsnelheid van 3 300 vps heeltemal haalbaar met die gebruik van S365 en S358. Blesbokke, rietbokke, takbokke en selfs hartbeesgrootte wild – wanneer koeëls van prima gehalte gebruik word, kan daar op lang afstande baie effektief met hierdie patroon gejag word.

Gewere in hierdie kaliber is nie geredelik oor die toonbank in Suid-Afrika beskikbaar nie. Derhalwe verkies die meeste plaaslike jagters die .25-06, wat ook ’n aansienlik ligter skop het.

.25-06 Remington

Die .25-06 is in die 1920’s deur AO Niedner ontwikkel as ’n sogenaamde wildcat deur die .30-06 af te nek na .25-kaliber (.257). Die AO Niedner Geweermaatskappy het pasmaakgewere in dié kaliber, wat hulle die .25 Niedner genoem het, aangebied. Hierdie wildcat het aanvanklik geen merkbare voordeel oor die baie populêre .257 Roberts gebied nie, aangesien sy groot dopvolume die gebruik van stadig brandende dryfmiddels vereis het om snelhede ’n hupstoot te gee. Dit was op daardie stadium nog nie beskikbaar nie.

Ná die bekendstelling van IMR 4831, het die .25-06 ’n bloeitydperk beleef met die gevolg dat Remington in 1969 die .25-06 gekommersialiseer het. Hulle het gehou by die aanvanklike dopkonfigurasie van die .30-06 behalwe vir die afnekking na .257-kaliber. Die huidige wye keuse van stadig brandende dryfmiddels maak die .25-06 aantreklik, veral vir die herlaaiers. ’n Hele aantal geweervervaardigers bied tans gewere in dié kaliber aan.

Die .25-06 se skop is te skerp om dit die ideale probleemdierlading te maak, terwyl die snelheid te hoog is vir die jag van wild vir vleis op kort tot medium afstande. Plaaslik het die .25-06 egter tot sy reg gekom as langafstandkaliber vir die jag van vlakte- en bergwild van klein tot medium grootte. Dis ’n beter springbok- /blesbokpatroon as die .243 of ander 6mm’s, veral met 120 gr-koeëls wat minder onderworpe is aan winddryf. Die .25-06 se 120 gr-koeël behaal dieselfde snelheid as die .243 se 105 gr-koeël, met ’n soortgelyke plat trajek. Vir die swaarder wild soos hartbeeste en swartwildebeeste moet 120 gr-koeëls van prima gehalte gebruik word en skootplasing moet versigtig gedoen word.

Die .25-06 is geensins ’n bosveldkaliber nie. Vir bosveldgebruik moet ’n koeëlsnelheid van ongeveer 2 400 vps nie oorskry word nie, om waarskynlike koeëlfragmentering (veral met konvensionele koeëls) en defleksie vanaf plantegroei te minimaliseer. Hoe vinniger ’n projektiel, hoe makliker vind defleksie plaas. Vleisskade neem ook nie net toe as fragmentering plaasvind nie, maar ook met verhoging in koeëlsnelheid. Selfs teen ’n aanvangslading word ’n 120 gr-koeël uit die .25-06 teen ongeveer 2 700 vps afgevuur.

Dis ’n maklik herlaaibare kaliber met S365 en S385 wat plaaslik beskikbaar is. As doppe (almal ingevoer) problematies raak, kan .30-06- of .270-doppe afgenek word, maar onthou om hulle dan tot die korrekte lengte korter te sny om binne die spesifikasies te bly. Koeëls van prima gehalte in verskeie gewigte tussen 75 en 120 gr is geredelik beskikbaar.

.25 WSSM

Die mees onlangse toevoeging tot die .257-kaliber-patrone is die .25 Winchester Super Short Magnum, wat in 2004 bekendgestel is. Hierdie patroon se ballistiek is vergelykbaar met dié van die .25-06, met ’n 14% besparing in dryfmiddel en laer aanvoelbare skop. Hierdie kaliber leen hom tot liggewig-gewere, wat ’n voordeel vir jag in moeilike terrein kan inhou. Alhoewel Winchester-gewere vir hierdie kaliber plaaslik beskikbaar is, is fabrieksammunisie skaars. Meer jagters verkies dus die .25-06 wanneer hulle ’n patroon in hierdie kaliber soek.

More in this category: « PREPARING TO BE FIT TO HUNT
back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.