Menu

Damesjagterspan laat skote klap in die Vrystaat

dames

 

 Margaret Botha, Adéle Janse van Rensburg, Anlé Pottas, Adri Kitshoff en Maryke Strydom

 dames2

Cliffie Myers, Margaret, Anlé en kameraman Andrew Tolmay

 

Margaret Botha

Margaret Botha, wat in Christiana woon en verbonde is aan die Suid-Afrikaanse Jagters-en-wildbewaringsvereniging (SAJWBV) se Vaalharts-tak, het met ’n projek begin om damesjag te bevorder. Sy het verlede jaar op die Vaalharts-tak se Facebook-blad gevra wie belangstel en die vroue het een vir een gereageer. Die damesjaggroep het gevolglik verlede jaar tot stand gekom.

Anlé Pottas van Bloemfontein, wat lid is van Vrystaat Jagters, het ook altyd saam met vriendinne gaan jag totdat sy en Margaret mekaar op Facebook raakgeloop en besluit het om vanjaar hulle jagte te kombineer. Anlé het die vorige jaar ’n damesjag op Weltevreden Game Lodge naby Bloemfontein meegemaak en het dit aanbeveel met die belofte dat dit uitstekend sou wees.

Anlé en Margaret het hul vorige jagvriendinne genooi, waaronder Adéle Janse van Rensburg van Hunters’ Permits Africa en Adri Kitshoff, die hoof uitvoerende beampte van Phasa. Hulle het ook nuwe jagvriendinne genooi, naamlik Maryke Strydom wat by geleentheid by die Impala-tak en die Oos-Rand-tak van SAJWBV skiet, sowel as ’n vriendin van Margaret, Tina de Lange, van Petrusburg wat net wou saamgaan om in die damesjagters se ervarings te deel.

So het die span vir die jagnaweek van 9 tot 12 Mei na Weltevreden Lodge net buite Bloemfontein opgeruk, saam met die span van Wild&Jag se TV-program Wild & Wragtag – Hennie van der Walt, Jokl le Roux kameraman Andrew Tolmay, wat die gebeurtenis verfilm het.

Die dames het almal groot trofeë geskiet, waarvan ’n paar vir Rowland Ward gekwalifiseer het. Anlé het ’n bielie van ’n rooihartbeesbul geskiet en Adri het tydens die naweek ondervind hoe haar selektiewe soeke na ’n spesifieke bok wat as trofee sou kwalifiseer, uiters moeilik was. Ná twee en ’n halwe dae in die veld het sy wel ’n rooibokram geskiet, maar dit was ongelukkig nie van trofeegehalte nie. Maryke het wel ’n RW-rooibokram geskiet en daarna ’n pragtige swartwildebeesbul. Adéle het ’n rooibokram van 24 duim geskiet, gevolg deur ’n Kalahari-springbokram van 15 duim; albei spesies wat vir Rowland Ward kwalifiseer! Margaret het ook ’n ou rooihartbeesbul met besondere wye horings geskiet en later ook ’n groot gemsbokbul.

Die naweek was vir die damesjagters ’n geleentheid om te wys dat vroue ook ’n liefde vir jag het en graag ’n droom wil bewaarheid. Die idee is geensins om vir die mans te wys dat vroue hul plek in die jagveld wil oorneem nie; hulle wil bloot in die jagervaring deel. Daar is tog baie vroue wat saam met hul pa’s en broers aan jag blootgestel is en toe ook deur die jaggogga gebyt is. Niemand het besef dat daar so ’n groot behoefte onder ons vroue bestaan aan iets só eksklusief soos jag nie. Inteendeel, jag word nie normaalweg in Suid-Afrika met vroue geassosieer nie omdat dit volgens die algemene  opvatting eerder in ’n manswêreld tuishoort. En waarom nie? In die VSA is dit ’n groot sakebedryf in die jagmark met eie klere en selfs TV-programme waar vroue die jagwerk doen. Ek dink vroue kan net so goed jag en dit net so baie geniet sonder om ’n tikkie van hul vroulikheid prys te gee.

Gedurende die damesjagnaweek is daar wonderlike nuwe vriende en vriendinne gemaak en bestaande vriendskappe het net hegter geraak. Daar was soveel respek vir en aanvaarding van mekaar. George Myers en sy seuns Clifford en Chris van Weltevreden Game Lodge net buite Bloemfontein, wat die span op die hande gedra het, asook Andrew, Hennie, Jokl en Andrew, wat ons so ontspanne laat voel het, het bygedra tot ’n ongelooflike jagervaring. Dit was ’n naweek wat ons altyd sal bybly. Baie dankie vir die beste jagnaweek ooit!

Die damesjagtersgroep beplan om hul aktiwiteite landwyd uit te brei, om sodoende ander vroue elders in Suid Afrika ook die geleentheid te gee om saam te jag. Afhangend van die belangstelling wat ontlok word,  kan die moontlikheid van die stigting van 'n damesjagtersorganisasie/-vereniging oorweeg word. Enige belangstellendes kan Margaret Botha en Anlé Pottas epos by: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.