Menu

Kriebosse

Doringharnas van kriebos

Kriebosse 050Pieter van der Walt

Met die destydse afwesigheid van wetenskaplike benamings waarmee ons vandag enige skepsel sonder onsekerheid benaam, het veral plante se dikwels vervormde volksname (volksetimologie) die onbekende in verband met iets wat bekend is, gebring. Die geleidelike noord-, oos- en weswaartse indringing van die binneland vir die benutting van nog onbekende hulpbronne, het naamontplooiing al meer gestandaardiseer. So het bosbenutting langs die Suid-Kaapse kus in die vroeë 1800’s grootliks tot vandag se woudboombenamings aanleiding gegee. Pionier-trekboere se verre omswerwinge van somerreёn-silwergrasveld tot groen vygie-winterreёnveld in die Namakwa-trekveld, of die Riemland se soetlaagland tot bergsuurveld, het hulle genoop om hulle medeskepsels te benaam om hulle te bly ken, ook aan die hand van kennis van swart volkere wat hulle mee skouer geskuur het.

So het die lekker storie van elke Afrikaanse plantnaam soos kriebos, kruidjie-roer-my-nie, bankrotbossie, soetsopbos, voёltjie-kannie-sit-nie, bitterbos, soontjie-se-bos, dawetjieswortel, pynbos, stroopbos en die koorsboom beslag gekry. Party val soet op die tong en gemoed maar in ander se roep lê die dood self.

Bosaard

Die aanleiding om suksesvol as ’n wese te wees, is die sameloop van ’n keuse van kwaliteite wat inherent optimale uitkomste in pag het. Vir mens, dier en plant verskil die aard daarvan hoewel daar gemeenhede is waaruit veel te leer is. Uitskieters met ’n besondere bekoring wat floreer in ’n besondere of algemene omgewing is die noodwendige gevolg hiervan.

Ons ryke skat van 675 boomfratse wat veral aanleidend tot vandag se sensasie van boomgenieting was, is meer geneig om in ’n besondere omgewing te floreer; uitkenbares met ’n aard en voorkoms as vername waarmerke om ’n landstreek te karakteriseer. Die oorlopers na naby of verre buurvelde se bestaanstryde in die algemeen, is ’n bron waaruit dié van ons wat wonder, kan put oor hoe om oorlewingsaard te slyp vanuit die beste uitsoekkulture.

Struikagtiges as die tussenin, alledaagse miskendes van ons velde, is veral aanpasbaar in uiteenlopende omgewingsverband. Hulle is karakters wat ons boomvelde se middelvlak as enkelinge verryk, maar ook dominante boskasies vorm as baasbekruipers in meer dorre oorgangsveld tussen bos- en bossieveld en hulle op oogvlak aan jou opdring, hetsy as ’n kosbron of sieraad in blaar, blom of vrug. Hierdie struikagtiges is dikwels ook ’n doringrige noodsaaklikheid in die skeppingsorde omdat hulle ’n uitdagende lewensnis beset.

Waar bome se voorkoms in 23 vertakkingsmodelle verklaar kan word, het struike met hul gewoonlik veelstammige gerondheid min erg daaraan. Hierdie byna eenvormige plantvorme het min wisseling in hoogte, wat min hulp tot uitkenning met hul groeivorme soos bome bied.

Tipiese karookriebos

Kriebosse 118Ekologiese frats

Die maklik uitkenbare kriebosse of -dorings Lycium spp. met ’n deurmekaar voorkoms is ’n moeilike groep plante om in spesies of soorte uit te ken. Elke plantstreek in Suid-Afrika beskik oor ’n aantal van hierdie erg verhoute bossies, bosse of boomstruike wat van 0,2 tot 4 m in hoogte wissel. Die groteres is beter as wolwedorings bekend omdat die skugtere strandwolf hom en sy kleintjies onder dié doringskuilte versteek. Die kleinere kriebosse spog met mooie volksname soos die boksdoring, rivierheuning-, douvatkriedoring, kraaldoring en slangbessie.

Die herkoms van die volksnaam “kriebos” is dieselfde as vir ons insgelyke wydverspreide karee = karoo (care tree) of taaibossoorte Searsia spp. (voorheen Rhus; W&J, Des 2012), albei met ’n volop eetbare bessiedrag.

’n Kriebos is eintlik maar ’n soort tamatieplant met ’n erge doringharnas wat jaloers oor sy ryp rooi tot oranjekleurige tamatietjies of vlesige bessies waak. Dit behoort tot die bekende tamatiefamilie Solanaceae, wat met vele gesonde, gekleurde vruggroentes ryk aan proteïene, aminosure, vitamiene en minerale tot die mens se dieet bydra. Die kortlewende tamatieplant Lycopersicon se rooi (lycopene pigment) vrugte is lank as ’n giftige onkruid in Sentraal- en Suid-Amerika beskou en het eers in die 18de eeu as ’n voedsame lekkerny gewild geraak. Sedertdien het moderne tegnieke duisende kultivars die lig laat sien sodat die tamatie vandag die tweede gewildste groentesoort naas die aartappel is.

Volop kleinerige, tregter- of trompetvormige, simmetriese lig- tot donkerblou blomme is in die lente en vroeg somermaande aan die voetenente van blaarklossies te sien. Nie lank daarna nie is die kriebosse oortrek van klein, opsigtelik blinkende amperse kersietamatietjies met 2 tot 4 saadbelaaide kamertjies; oorgewilde boskos vir baie bessieliewendes en vir oorlewing in tye van nood.

Die dekade lange oorbeweiding van veral dorre karooagtige velde se kosbare leegtes en vlaktevelde het onnodig digte stande van kleinere kriedorings soos die boksdoring L. cinereum tot gevolg. Ons dorre bosvelde se groter kriedoringstruike soos die wolfdoring (Limpopo honey-thorn) L. bosciifolium en harige wolwedoring (hairy honey-thorn) L. villosum kom nog meer as enkelinge voor.

Kriedorings se wortelgeaardheid is veral vir dié strydros se plaatstande verantwoordelik. Elke veelstammige kriebos het kruipende, ondergrondse stammetjies wat soos speke van ’n wiel weg van die moederplant bogrondse suiers vorm. Elke suier is ’n kriebosspruit in eie reg wat tot digte kolonies vermeerder. Veral op die vlakte is sulke kolonies suksesvolle waaisandversamelaars wat hul grondhoogte vermeerder en só kompetisie van ander plante uitskakel.

Ons het hier ’n baie suksesvolle, vegetatiewe of ongeslagtelike manier van verbreiding van ’n ekologiese frats, verder vervolmaak deur ou stammetjies wat hulself met worteltjies anker waar hulle grond raak. Hierdie jong plante se kans op oorlewing is beter as dié van saailinge omdat hulle ’n tyd lank lewensbronne uit die moederplant kan put. ’n Digte kriebosstand is dus meesal die jare lange uitkoms van die uitkring en aanskakel van ’n enkele plant of ’n paar moederplante. Om oormatige kriebosstande na eertydse bonte grasbossieveld te hervorm, veral in die Karoo, is ’n bykans onbegonne taak. Al verkap jy kriebosse, bly ’n ondergrondse lopernes in plek om ander hergroeikompetisie te bied.

Die kriebos se blaartekstuur en vorm verskil aansienlik van ’n klein tot ’n groot bos, met ’n blaarkleur wat van blink heldergroen tot dof-grysgroen wissel. Klein kriebosse vertoon meer sukkulensie in hul bonkige blaartjies, terwyl die groter struike langer, lepelvormige blare het. Dis nie juis voorkeurblaarkos vir blaarvreters nie, hoewel nuwe spruite tog tussen die vele dorings uitgesnuffel word. Kriebosse wat vroeg hul blare verloor, sein vir die boer ’n komende droogte; ’n skrale weidinkie wat troos in die aanloop tot ’n jaarlikse, mooie roesbruin skouspel in die herfstyd. ’n Ander bygeloof is dat die wolwedorings weerlig aantrek.

Die muisbos (Cape box-thorn) L. tetrandrum is ’n besondere kriedoringsoort met vele gebruike vir mens en dier as skuiling – muisbosskerms dien tot as seekosrestourante! Dit is ’n kusgebonde, 3 m hoё, geharde en digte doringstruik wat boskasies in diep sand langs kusduine, rivieroewers en holtes vorm langs die Namibiese kus en aan ons Weskus. Dit wys dat ’n versekerde waterbron vir sy oorlewing van belang is. Kondensasievog uit sleepmis dien slegs as ’n toegif en ook om die lugtemperatuur meer draaglik te maak.

Die muisbos is ’n ou vetplantagtige, doringrige en deurmekaar gerondheid wat algaande in omvang en hoogte toeneem namate sand op ’n sandknoets in erge winderigheid vergaar word. Die ouer stammetjies is donkerder as die jongeres en het ook langer dorings. Soos ’n paar ander kriebossoorte, is die roomkleurige buisblommetjies enkelslagtig met beide geslagte wat baie eenders lyk.

Die brosdoring (brittle-thorn) Phaeoptilum spinosum is ’n volop en onverwags baie aanskoulike, amperse kriebos in sy pienkrooi vruggewaad. Behorende tot die bougainvillea-familie Nyctaginaceae, is dié yler struikerigheid van sowat 2 m hoog veral tydens laatsomer in die hardeveld aangrensend tot die Kalahari te sien. Dan vrolik alleenstaande brosdorings se viervlerkige, papieragtige flense of samaras die andersins grysgroen grasbossievelde op.

Volgende keer: Klapperbos

Dr Pieter van der Walt, tel (012) 329 0037, This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.