Menu

Oor kalibers & keuses - Deel 2


kalibers .264 Win 002Die 6.5mm-familie

 

6.5 x 57mm en 6.5 x 57R Mauser

Historiese aantekeninge

In 1893/94 is hierdie rondte as ’n afgenekte weergawe van die 7 x 57 Mauser ontwikkel. Dis gelys as ’n jagkaliber en is nooit iewers as ’n militêre rondte in gebruik geneem nie, hoewel dit beslis die ontwerp van baie van die 6.5mm militêre rondtes soos die 6.5 x 55mm Swedish en 6.5 x 68mm Portuguese beïnvloed het. Hierdie drie rondtes het dieselfde dimensies en gedrag, maar is nie dieselfde nie en is nie onderling uitruilbaar nie. Die gerande weergawe (6.5 x 57R) word meesal in kombinasiegewere gebruik.

6.5 x 58mm Portuguese Vergueiro

Historiese aantekeninge

Hierdie rondte was die oorspronklike Portugese rondte vir die Mauser-Vergueiro-grendelaksiegeweer – ’n basiese Mauser-tipe, maar met sekere Mannlicher-eienskappe soos die gesplete rompbrug. In 1937 het Portugal die 8mm Mauser in gebruik geneem, tesame met die Model 98 Mauser-geweer. Baie van die ou Vergueiro-gewere het daarom loopvervangings vir die nuwe rondte ondergaan.

Algemeen

Mauser-grendelaksiegewere vir dié rondte is in Engeland en Europa vervaardig, maar nooit in Amerika nie. Aangesien die meerderheid oorspronklike Vergueiro-gewere loopvervangings ondergaan het, is daar nie baie van hierdie gewere oor nie.

6.5 x 61mm Mauser

Dis deur DWM vir verskeie Duits-vervaardigde Mauser-aksie-gewere ontwikkel, en is in die 1930’s bekendgestel. ’n Gerande weergawe was ook beskikbaar vir enkelskoot- en kombinasiegewere. Dit was nooit gewild nie en het nooit ’n herlewing ervaar nie.

6.5 x 68mm Schuler

Historiese aantekeninge

Hoewel dit deur RWS in 1938/39 bekendgestel is, is dit vroeër ontwikkel deur Schuler deur ’n 8 x 68-dop af te nek. Dit was oorspronklik gekamer vir Duits-vervaardigde Mauser-aksie-gewere. Stoeger het ook Mannlicher-Schönauer grendelaksies in dié kaliber ingevoer, en op ’n stadium was Duitse Vom Hofe-gewere vir dié kaliber beskikbaar, wat daartoe gelei het dat dit soms die 6.5mm Vom Hofe Express genoem word.

Algemeen

Dis die kragtigste van die Europese 6.5mm’s. In dimensie en gedrag is dit soortgelyk aan die .264 Win Mag, behalwe dat die .264 ’n gegordelde dop het.

Dis ’n puik plattrajek-rondte wat koeëls tussen 87 en 123 gr kan hanteer, en sal uitstekend diens kan doen as ’n langafstandgeweer vir probleemdierbeheer met die ligter koeëls, en as ’n klein tot medium vlaktewild-rondte met die swaarder koeëls.

Die “nuwe generasie” of Amerikaanse 6.5mm’s

Die militêre ingebruikneming van verskeie 6.5mm-kalibers, bv die 6.5 x 55mm Swedish, 6.5 x 54mm Mannlicher en 6.5 x 58mm Portuguese deur die onderskeie Europese lande, het ’n sleutelrol in hul sukses gespeel. In Amerika het die 6.5mm’s nooit werklik posgevat nie, selfs al het een van hul eie kundiges, Charles Newton, reeds in 1916 gewere gekamer vir onder andere ’n 6.5mm (die .256 Newton, wat ’n groefdeursnee was), bekendgestel.

Waarom het daar dan eers ná ongeveer 1957 ’n aantal nuwe 6.5mm’s die lig gesien? Eerstens, weens die groot aantal militêre 6.5mm’s in omloop het Amerikaanse vervaardigers (waaronder herlaaiers) met voorbedagte rade veilig gespeel deur bv hul 6.5 x 55mm Swedish-ammunisie te “onderlaai” (maw ladings nader aan die minimum as aan die maksimum spesifikasies). Nuwer, koeëls van beter gehalte het egter later eers gekom, en om voordeel te trek uit die verbeterde ballistiese koëffisiënte en seksionele digthede, het die Amerikaners ’n behoefte ontwikkel na “warmer” 6.5mm’s. Hierdie “lang-vir-kaliber”-koeëls het ’n plat trajek, penetreer besonders goed en is inherent akkuraat. Daarbenewens kan hierdie rondtes op ware kort aksies gebou word, wat liggewiggewere moontlik maak, terwyl kort, dik patrone ook tans in die mode is.

.264 Winchester Magnum

Historiese aantekeninge

Hierdie kleinboor-Magnum was die eerste van die 6.5mm’s ná 1957 en is in 1958 deur Winchester aangekondig, hoewel produksiegewere daarvoor eers in 1959 beskikbaar geword het. Dis een van ’n reeks patrone wat geskoei is op afnekkings van die oorspronklike .458 Winchester gegordelde dop.

Dit was aanvanklik slegs in die Winchester Mod 70 Westerner-grendelaksie beskikbaar, terwyl Remington dit later in hul Remington 700-reeks beskikbaar gestel het.

Tans word die .264 Win Mag nie meer vir rakverkope in massa vervaardig nie en fabrieksladings word slegs deur twee vervaardigers, nl Winchester en Remington aangebied, albei in 140 gr-ladings.

Buitensporige loop-erosie en die geboorte van die 7mm Remington Magnum (die gewildste Magnum-kaliber in Amerika en dalk ook ter wêreld) vanuit dieselfde dop het daartoe gelei dat die .264 Win Mag se gewildheid daardeur oorskadu is. Hoewel die standaard 1 in 9”-skroefdraai nie vinnig genoeg was vir koeëls swaarder as 140 gr nie, kan veral rondeneuskoeëls van tot 160 gr nog heeltemal akkuraat genoeg vir praktiese jagdoeleindes gelanseer word. Vir herlaaiers is koeëlgewigte tussen 85 en 160 gr geredelik beskikbaar.

Die .264 Win Mag is ’n puik langafstandrondte vir wild tot hartbeesgrootte, laasgenoemde as die swaarder (>140 gr) koeëls van prima gehalte gebruik word. Selfs die stadiger 160 gr-koeël teen ongeveer 2750 voet per sekonde (vps) behou sy snelheid goed weens die lang, vaartbelynde vorm, wat ’n plat trajek tot gevolg het. Die ligte 100 gr-koeëls kan indrukwekkende snelhede bereik (3 500 vps volgens standaard-fabriekballistiek), maar tromp-lugslag (muzzle blast) en skop is te hoog om dit ’n suksesvolle probleemdier- of oesrondte te maak. Die kombinasie van ligte koeëls en groot volumes stadig verbrandende dryfmiddels kan loopkele in ’n relatief kort tydperk vernietig. Nes al die hoësnelheid-, kleinboor-kalibers is die .264 ’n vleisbederwer op kort tot medium afstand, en koeëls van prima gehalte en met beheerde verplatting (mushrooming) word aanbeveel om vleisskade sowel as te vinnige koeëlopbreking te beperk. Selfs al is fabrieksladings beperk, kan herlaaiers aan die skiet bly met die geredelike beskikbaarheid van herlaaikomponente.

Moderne, vlekvryestaallope kan dalk langer hou as lope van ’n halfeeu gelede. Met Suid-Afrikaanse dryfmiddels is die maksimumlading vir die 140 gr-koeël 64.5 gr S385, wat snelhede in die orde van 3 030 vps genereer (nie naby aan die 3 500 vps volgens standaard-fabriekballistiek nie), wat die .264 Win niks beter maak as die .270 Win nie.

.260 Remington

Hierdie Amerikaanse 6.5mm is in 1997 bekendgestel. Dis basies ’n .243 Win wat opgenek is of ’n 7 mm-08 wat afgenek is tot 6.5mm. Volgens die literatuur sal ’n 140 gr-koeël uit ’n fabriekslading ’n trompsnelheid van 2 800 vps bereik, maar dis waarskynlik sowat 150 vps te optimisties, wat die .260 in die 6.5 x 55mm ballistiese klas plaas. In Amerika, waar jagters meesal spoedvrate is, kan dit ’n invloed op die kaliber se gewildheid hê. In Suid-Afrika, waar die 6.5mm’s al vir jare ’n groot aanhang het, is nog ’n 6.5mm seker nie werklik nodig nie. Met 120 of 125 gr-koeëls is dit egter ’n goeie rondte vir die jeug of beginners om wild tot blesbok- of rietbokgrootte te jag, en in ervare hande met 140–160 gr-koeëls kan tot hartbeesgrootte wild op langer afstande van tot 250 m gejag word. Dit het laer skop as die 7mm’s (selfs die 7 x 57), is inherent baie akkuraat en word op ware kort aksies gebou, wat ligter gewere tot gevolg het. ’n Rondeneuskoeël van 160 gr sal met 35 gr S365 ’n trompsnelheid van sowat 2 300 vps hê, wat dit tesame met sy goeie penetrasievermoë (seksionele digtheid) ’n goeie bosveldkaliber vir wild tot koedoekoei- of njala-grootte kan maak.

6.5mm Remington Magnum

Dis ’n Remington-breinkind wat in 1966 vir hulle Model 600-karabyn bekendgestel is. Dis geskoei op die .350 Remington Magnum-dop wat slegs afgenek is. Beide die Modelle 600 Karabyn met sy 18½-duim-loop, en latere 660 Karabyn met ’n 20-duim-loop, kon nie die rondte se volle potensiaal ontsluit nie en albei is gestaak. Remington het in 1971 hul Model 700 en 40-XB-teikengeweer met 24-duim-lope in hierdie kaliber aangebied. Ruger het dit ook vir ’n kort tydperk aangebied. Tans maak geen vervaardigers hierdie kaliber op groot skaal vir rakverkope nie en fabrieksammunisie is skaars.

Algemeen

Dit het die grootste dopvolume en ontwikkel gevolglik hoër snelhede as enige van die Europese militêre 6.5mm’s. Van die redes vir dié rondte se ongewildheid is die onooglike wapens waarin dit aangebied was, die kort lope (kyk hierbo), kort magasyne wat dieper vestiging (seating) genoodsaak het, met gevolglike laer volumes en ballistiese gedrag. In ’n standaardaksie behoort dit swaarder koeëls toe te laat om verder uit die dop gevestig te word; .270 Win-ballistiek behoort dan haalbaar te wees.

Bronne:

Barnes, Frank C. 1986. Cartridges of the World.

Barnard, K. 2011. Cartridges 101.

More in this category: Oor vlieëniers en jagters »
back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.