Menu

Oor vlieëniers en jagters

 

Hennie van der Walt

Op ’n koue winteroggend sit ek so en luister na ’n ligte vliegtuig wat op die vakansiedag so lekker laag oor die plaas vlieg. Skielik skop die krag uit en besef ek ook dat die gedreun van die ligte vliegtuig wat ek nou net gehoor het, doodstil is.

Vanaf die stoep sien ek al die wild op die vlakte hardloop ’n stofwolk na die suide, maar agter die eerste ry bloekombome hang ’n digte stofwolk. Terwyl ek oor die tweerigtingradio al die Bravo Sektor-lede roep vir bystand, besef ek ons sal vuurvegters moet inbring toe ek die rookwolk agter die bloekombome die lug in sien skiet.

Terwyl ek, my vrou en dogter met die bakkie afjaag, bevestig die Bravo-lede oor die radio een vir een dat hulle op pad is. Wat ’n verligting toe ons die draai aan die einde van die land vat en sien dat die rookwolk en die vliegtuigwrak so 200 m uitmekaar is. Ek bevestig oor die tweerigtingradio dat die elektriese kabels die veld aan die brand laat slaan het en dat ek ’n man met sy selfoon teen sy oor sien langs ’n vliegtuig.

Nadat ek met die geskokte maar kalm man bevestig het dat dit net hy in die vliegtuig was, sê hy vir my hy het gebid toe hy uit die wrak geklim het. Hy sê ook dat dit sy fout was. Toe al die Bravo’s opdaag en vining die vuur doodspuit, vra die man my: “Wie is al hierdie mense wat kom help?”

Hierdie vrae van die dankbare vlieënier het my laat dink hoe dankbaar ons jagters moet wees om ons passie te kan uitleef om te jag, nes hierdie man sy passie uitleef om te vlieg.

Is ons dankbaar en besef ons watter voorreg dit is om te kan jag, erken ons dit as ons foute maak in die jagveld (of tydens ons verblyf op die jagplaas) en besef ons elke dag daar is mense en instansies wat altyd bereid is om te help, al is dit nie soos in hierdie geval ’n noodgeval nie?

Soos die vlieënier baie ure spandeer het om sy vliegopleiding te voltooi, elke keer deur al die drills te gaan om seker te maak dat alles in orde is voor hy opstyg, gereeld al die instrumente nagaan in die lug en konstant uitkyk waar hy vlieg en alles wat om hom aangaan, waarneem sodat hy veilig sy passie kan uitleef, is die vraag of ons as jagters ook so doelgerig voorberei en konstant ons omgewing waarneem waar ons besig is om te jag.

Is ons voorbereiding vir ’n jag gelykstaande aan die metodiese nagaan van instrumente voor opstyging deur die vlieënier, of hardloop ons gou Donderdag by die wapenhandelaar in vir ’n pakkie patrone want ons gaan mos die naweek jag. As die verkoopsman jou vra watter grein, kyk jy hom verbaas aan en vra oortuigend wat kan hy voorstel want jy het nog 150 gr-koeëls oor van laas jaar (toe jy blesbokke in die Vrystaat gaan jag het). Jy is egter nou op pad bosveld toe en is nie seker watter spesies beskikbaar is om te jag nie, want dit is die eerste keer wat jy op dié plaas gaan jag. Uiteraard noem jy nie dat die rede hiervoor is dat jy en jou vriende nie meer welkom is op die bosveldplaas waar julle twee jaar gelede gejag het nie. Wonder hoekom?

Vrydagmiddag met jul aankoms op die plaas is daar nie tyd vir inskiet nie; die gewag by die groot boom by die afdraai vir die manne wat laat weggetrek het, het die laaste wintermiddagsonstrale in die bestuurder se oë laat skyn en julle kon nie vinniger ry op die grondpad nie. Die vuur moet gepak word, koelbokse en kosvoorrade uitgepak word want ons kan nie met al hierdie voorrade Sondag huis toe nie; die bokke gaan die sleepwa vol lê.

Saterdagoggend bewe-bewe jy die skote in op die skietbaan, die loop lekker warm geskiet met al die verstellings aan die teleskoop. Jy kan nie verstaan hoekom die teleskoop uit is nie. Jy het dan nog laas jaar al die kwesbokke in die Vrystaat bymekaargemaak? Gelukkig het jy die pakkie 180 gr-koeëls gister gekoop want jy het nou net die laaste 150 gr-koeëls van laas jaar uitgeskiet om die teleskoop in te stel.

Noudat die instrumente nagegaan is, mik jy vir die Cruiser met die lekker skietbankie oor die dak en die gemaklike dooierus, nes die sandsak op die skiettafel. Groot is jou verbasing as jy en die gids afgelaai word; hy met twee lang stokke wat met ’n fietsbinneband aanmekaar gehou word, so asof hy gaan water aanwys. Waar is die bokke? wil jy by die gids weet. “Nie te vêr nie,” antwoord hy met ’n teleurgestelde uitdrukking op sy gesig (hy weet sommer wat nou voorlê) terwyl die Cruiser voor julle wegry die bos in. ’n Uur later, lekker moeg gestap, begin jy vir jouself uitwerk hoe lank gaan jy terugstap kamp toe vir iets om gisteraand se dors te les. Nie daaraan gedink om ’n rugsak met vrugtesappies en energiestafies te pak nie, en ja, daar sou ook plek gewees het vir ’n rol goud noudat jy besef dis nie net hongerpyngeluide wat jou maag maak nie ...

Jy skraap genoeg moed bymekaar om vir die gids te vra om ’n bietjie te rus. Dan vlieg ’n hele trop rooibokke hier reg voor julle weg die bosse in. Hoe kon julle die bokke nie vroeër raakgesien het nie? Maar jy soek in elk geval mos ’n koedoebul, so wat maak dit saak. Groot is die verligting as jy ’n uur later die weerligafleiers van die kamp sien naderkom. Nou kan jy darem eers jou dors les, ontbyt eet en die troon besoek.

Mens kan jou indink hoe die res van die naweek verloop, en uiteraard al die klagtes oor die boer, gids, plaas, akkommodasie en natuurlik die gekweste bokke wat nog in die veld rondloop met die jagter se getekende tjek aan hul horings vas.

Maar sal die jagter erken dat hy ’n fout of twee gemaak het? Nee, nie maklik nie. Dit is mos altyd iemand anders se skuld. Dit was nie hy wat die jagnaweek gereël het nie; hy het nie kans gehad om voor die tyd sy geweer in te skiet nie weens werksomstandighede; hy het nie nagelees oor skootplasing vir die spesie wat hy wou jag nie – so is daar vir alles ’n verskoning. Hy het ook glad nie die mooi natuur en dierelewe om hom waargeneem die hele naweek nie; hy was te besig om te sukkel en daarna te kla.

Die vlieënier het daarenteen dadelik erken hy het ’n oordeelsfout begaan en amper met sy lewe daarvoor geboet. Hy sal ná hierdie ondervinding beslis nie weer so ’n oordeelsfout begaan nie, maar sal die jagter ooit erken hy het gefouteer?

Dit bring my by die vlieënier se derde opmerking: “Wie is al hierdie mense wat kom help?” Die Bravo’s is deel van die plaaslike sektor Polisiëring (GPF), lede van die plaaslike Brandbeskermingsvereniging, bure en vriende in die omgewing. In nood en op sosiale vlak staan hulle mekaar altyd by. Vir die jagter is die Bravo’s gelykstaande aan die lede van ’n jagtersvereniging, nie net om in nood te kom help nie, maar om eerstens deurentyd te verseker dat die lid aan al die wetlike vereistes voldoen. Soos elke boer wetlik verplig is om brandbane om sy grense in stand te hou, te hou by die brandbeperkingsdatums, toestemmingsbriewe nodig het om voorbrande te maak en die nodige brandbestrydingstoerusting moet hê, is daar sekere wetlike verpligtinge waaraan die jagter ook moet voldoen. Dit is baie makliker om as lid van die Brandbeskermingsvereniging al die nodige inligting te verkry om te verseker dat jy aan die wetlike aspekte voldoen, en tweedens om te verseker dat jou voorbereiding korrek is. Dan leer ’n mens ook by die ouer boere hoe dinge reg gedoen moet word tydens oefensessies, soos om mekaar byvoorbeeld te help om voorbrandbane te brand of tydens die werklike bestryding van veldbrande. ’n Mens kry ook goeie raad soos wat om saam te neem – ’n vol kan petrol vir die vuurvegter (jy wil nie hê die petrol in die masjien moet klaar raak voordat die vuur geblus is nie), ekstra tou indien die aansittou sou breek, handslaners, nat sakke, skoon drinkwater vir die vuurslaners, ens. Dit leer jy net as jy aktief deelneem en betrokke is by die gemeenskap waar jy bly en boer. Jy begin dan ook jou waarnemingsintuie gebruik – watter kant toe waai die wind, hoe ver is die volgende brandbaan wat die vuur kan keer, waar is die naaste punt waar die waterwaens weer vol water getap kan word. Dieselfde geld vir die jagter se voorbereiding en dan waarneming van wat in die veld aangaan. As jy nie in die jagveld alles om jou gaan waarneem nie, gaan jy nie besef hoe bevoorreg jy is om in die natuur te wees nie, en gaan jy nie die natuur geniet nie.

Omring jou dus met medejagters van ’n jagtersvereniging, maak seker dat jy aan die wetlike vereistes voldoen en neem deel aan die vereniging se aktiwiteite, nie net om in oefening te bly deur byvoorbeeld skietdae nie, maar ook om by die ervare jagters te leer. Die heel belangrikste is om te sorg dat jy ’n etiese jagter is en bly terwyl jy deur jou waarnemingsvermoë die natuur geniet.

Vir WILD & JAG se lesers klink dit nou seker asof daar vir die gelowiges in die kerk gepreek word, maar wil jy gaan jag saam met iemand wat nie sy opleiding, voorbereiding en waarneming ernstig opneem nie, altyd iemand anders die skuld gee en nie kan erken hy het ’n fout begaan nie? Geen wonder sekere boere neem nie besprekings van jagters wat nie hul jagtersvereniging se lidnommers kan verskaf nie.

back to top
FaLang translation system by Faboba

Born to Hunt - Gallery!!

.